31 Julie 2020
26 Jul – 1 Aug
Romenië: Bid vir die afhandeling van die hofgeding rakende die kopiereg van die Cornilescu Bybel wat al vir die laaste sewe jaar sloer. Bid vir die verdere ontwikkeling van ons projekte en publikasies, asook die samewerking van al ons lidkerke.
Estland: Bid vir Bybelwerk in hierdie baie sekulêre land. Bid vir ons pogings rondom die bewusmaking van die Bybel as ’n bron van lewe. Bid dat Christene en nie-Christene deur ons beplande werk die Woord beter sal verstaan.
Letland: Bid vir die hersiening van die Bybel in Letties en dat dit ’n simbool sal word van eenheid onder die kerke. Bid ook vir ons Bybelbewusmakingsveldtogte en dat ons in staat sal wees om Bybelgedeeltes in elektroniese formate beskikbaar te maak.
2 – 8 Aug
Hongarye: Prys die Here vir die hersiene weergawe van die Karoli Bybel wat onlangs bekendgestel is, vir ons Bybelverspreidingsprojekte en vir ons aanlynkompetisies. Bid dat hierdie inisiatiewe positief ontvang sal word. Bid ook vir die vordering van die Bybel in Gebaretaal, vir die mense wie se harte ons aanraak, asook vir ons span.
Moldawië: Bid dat almal in Moldawië deur God se Woord aangeraak sal word en dat dit in ’n geskikte formaat en taal sal wees wat hulle verstaan. Bid dat ons meer klem op Bybelbewusmaking en Bybelbetrokkenheid in ons gemeenskap sal kan plaas asook vir beter samewerking met kerke.
Bulgarye: Bid dat ons in die Bybelbehoeftes van ons medeburgers asook die vlugtelinge in ons land sal kan voorsien. Bid dat ons ook in die behoeftes van mense met sig- en ander gestremdhede, asook kinders in kinderhuise, sal kan voorsien.