12 Junie 2020

Goeie dag ds Hannes

Die eerste drie maande van die grendeltydperk was vir die inwoners van Othello maar ‘n moeilike tyd. Ons wat soos een groot familie gereeld oor en weer in mekaar se woonstelle en huise gekuier het was skielik ingehok soos diere in die dieretuin. Orals het kennisgewings verskyn met die boodskap: “Bly in jou woning, was jou hande, dra jou masker en hou die afstand van twee meter” Skielik mag ons net op die paaie beweeg wanneer ons ons kos by die eetkamer gaan haal. Waar ons soos soldate by ‘n weermagmenasie in ‘n lang ry moet staan. Almal loop met vrees in hul oë rond en is te bang om met mekaar te praat. Ons word vertel dat die koronavirus baie lief vir ou mense is en daarom is sosialisering taboe.

 

Ons moet soms ons wonings verlaat om wasgoed op te hang of om vullis te verwyder en skaterlag vir ons bure se koddige gesigmaskers. Party van ons lyk soos die akteurs wat in die Star War flieks gespeel het. Een van ons inwoners is met die virus gediagnoseer en sy saam met haar bure is vir twee volle weke in hul woonstelle toegesluit wat summier as ‘n rooi-sone verklaar is. Almal het groot geskrik en party van ons het soos ysbere gaan wegkruip.

 

Die grootste gros van die inwoners het hulle by die reëls gehou, en was daar net drie van die 750 inwoners wat te sterwe gekom het. Eensaamheid bring wanhoop en troosteloosheid en kan maklik in depressie verander. In Hebreërs 10 verse 23-24 word ons geleer om styf vas te hou aan die HOOP en laat ons ook na mekaar omsien.

Groete Calie

NS.  Kyk hier na ons mense in grendeltyd.