17 Julie 2020

Hannes

Daar word gesê dat jou verlede of gebeurtenisse in jou verlede jou toekoms bepaal

Daar is een geval in my verlede wat ‘n groot rol in my lewe speel.

Op Donderdag 19 Julie 2007 was ek op die operasie tafel, omrede ek die groot K in my liggaam gehad het. Elk geval hulle twee werkende besmette parte verwyder, paar veranderinge aan die binnekant gedoen en toe toegemaak, vir my in die ICU geplaas.

Op Woensdag 25 Julie word ek oorgeplaas na gewone saal, waar my koors styg en ek is terug ICU toe. ‘n Goggatjie het my ernstig siek gemaak.  Vrydag 27 Julie word Veronica ingeroep . Sy en my seun Charl maak eers ‘n draai by my. Ek noem toe vir hom dat hy vir sy ma moet sorg want ek kan nie meer. Soos ‘n goeie seun weier hy. Hy laat my verstaan dit is nie sy job nie, maar pa se job. En sy pa is nie ‘n verloorder nie, maar ‘n fighter. Hulle is toe geneesheer toe wat hulle verwittig dat daar heel moontlik iets in my keel geplaas mag word om my te help met asemhaling – wat toe gelukkig nie gebeur het nie.

Nadat hulle my verlaat het, het ek probeer bid. Aangesien my moedertaal Engels is het ek begin: ”Our Father who art in heaven…” en vasgehaak. En weer begin: “Our Father who art in heaven hallowed be Thy name…” en weer vasgehaak. En weer van voor begin, en dit so sin vir sin gedoen. Totdat ek die gebed kon deurwerk en Amen sê. Toe ek afsluit sien ek die oewer van die rivier Jordaan in die verte. Ek begin soontoe beweeg En ‘n stem sê vir my “Go back it is not yet your time.”

Ek het besef God het met my gepraat en van daardie oomblik het ek begin beter voel. Die vierde Augustus oorgeplaas algemene saal en vir die eerste keer vaste voedsel gekry. Die hele sewentien dae in ICU was ek op binneaarsvoeding. (As jy gewig wil verloor is dit die manier – ek het 25 kg verloor. Maar ek beveel dit nie aan nie).

Vrydag 10 Augustus, heel pad HUISTOE.

Wat ek vir jou wil sê, is dat Kanker nie altyd ‘n doodvonnis is en ongeneesbaar is nie.  En verder: Dit maak nie saak hoe donker dit lyk nie daar is altyd HOOP. Moenie die krag van gebed onderskat nie. Voor die operasie het my een broer my gekontak en gevra of dit ek is wat moet ingaan vir ‘n operasie, want hy het uit All Black land van vriend van hom navraag gehad oor ‘n Wolfaardt vir wie gebid word. Dit was ‘n lang ketting.

My aardse geneesheer het my verlede jaar ingelig dat ek skoon is van kanker .

Dus, God se genesende hand was oor my, Hy het die aardse geneesheer die talent gegee om sulke werk te doen.

Alle eer aan God

Charles