29 Januarie 2021
My asemskep-, stil word- en dink tye is vroegoggend tussen ons sitrusbome waar die kraakvars reuke van lewe my inspireer en opgewonde maak. Elke oggend, douvoordag is ek flink uit die vere sodat die sitrusbome water en versorging kan kry. Ons pomelo-boom se vrugte is tot barstens toe vol lewe! Tydens herfstyd behoort ons, ons eerste pomelo’s te oes. Vanoggend het die waterdruppels op ons pomelo-boom se blare en die sitrus-reuk wat in die lug hang my opnuut aan De Eike laat dink.
De Eike het die 2021 seisoen bereik en oor ongeveer 338 dae gaan ons terugkyk en onsself afvra: “Was die grond goed voorberei sodat die bome se vrugte tot barstens toe vol lewe kon wees?” Dalk wonder jy of daar ooit vrugte aan die einde van 2021 gaan wees want ons kerkgebou is agter slot en grendel. Eredienste vind nie in die kerkgebou plaas nie. Bybelstudiegroepe kom nie bymekaar nie. Bedieninge kan nie momentum kry nie.
Met De Eike se kerkgebou agter slot en grendel beteken dit nie dat ons nou moet ophou om kerk van Christus te wees nie. Juis nou moet die grond bewerk en die bome versorg word. Ons het nie ’n kerkgebou nodig om kerk te wees nie. Ons het nou vindingrykheid nodig, geïnspireer deur die Heilige Gees, om mense te versorg sodat vrugte gedra kan word. Vrugte wat tot barstens toe vol lewe is.
De Eike se Jeugkommissie is besig om vindingryke planne uit te rol wat my na my asem laat snak! Soveel entoesiasme, passie en dryfkrag het ek lanklaas in ’n kommissie beleef. En om alles te kroon omarm hierdie kommissie se lede die digitale era waarmee hulle De Eike se jongmense en hul ouers mee gaan bereik. Die Jeugkommissie het hulle nie laat muilband deur COVID-19 nie! Hulle het nuut en vars gedink sodat Grendeltyd nie ’n verleentheid hoef te wees nie, maar ’n geleentheid. Hou gerus alle kommunikasie aangaande die bedrywighede van die Jeugkommissie dop en raak saam opgewonde.
Ek beleef weer die sitrus-reuk wat in die lug hang en sien in my geestesoog die waterdruppels op ons pomelo-boom se blare wanneer De Eike haarself nie laat vasbind deur COVID-19 nie. Ek sien dat 2021 ’n genade en groei-jaar gaan wees met vrugte barstens toe vol lewe. Ek is propvol inspirasie en opwinding want daar is mense in De Eike wat veerkragtig en vindingryk in Sy tuin besig is sodat 2021 ’n goeie en dankbare oesjaar gaan wees.
Chris