12 Junie 2020
DIE KERK IN EN NA GRENDELTYD
Iemand het onlangs op een van die digitale platforms die volgende plasing gedoen wat my nogal laat dink het: “Die kerk is nie toegesluit nie. Daarom is dit onnodig om dit oop te sluit. Ons het wel opgehou om vir ’n tyd lank in die kerkgebou te aanbid omrede lidmate se gesondheid en welstand beskerm moet word. Die kerk het nie ’n gebou nodig om kerk te wees nie. Wat nodig is, is liefde, omgee en die teenwoordigheid van die Here. Tog hoor ek by baie mense dat die kerk gemis word.”
Vandag is die 76ste dag in grendeltyd en ja, ons almal mis sosiale nabyheid op Sondae. Ons mis die saamwees, saamsing en saam luister na die Here se Woord. Dit is hoe ons aanmekaar geweef is in die hemelse fabriek. Ons is aanmekaargesit vir verhoudings. En skielik verander alles waaraan ons gewoond geraak het in die gemeente. Ons kan nie meer ons geloof uitleef soos wat dit van geslag tot geslag oorgelewer is nie. Ons totale gemeentelike roetine en ritme het verander. Ons basaar word uitgestel, Pinkster in De Eike vind nie plaas soos waaraan ons gewoond is nie.
Ons almal vertrou dat dit wat tans gebeur tydelik is en gaan oorwaai. Op ’n dag sal ons sonder vrees en bewing weer saam kan kerk toe gaan. Maar dit moenie ons vernaamste godsdienstige vooruitsig wees om na grendeltyd weer in eredienste saam met ander gelowiges te sit nie. Indien dit die geval is kort ons dringend ‘n beter verstaan van kerkwees. Alle wesenlike elemente van geloof, insluitende bekering, geloofgroei, geloofopbou, gebed en mededeelsaamheid, kan ook losstaande van gebou-aangedrewe byeenkomste gebeur. Hierdie is dalk die heel belangrikste kerklike kopskuif wat ons in hierdie dae moet maak. Ons sal moet leer hoe om mekaar geestelik te versorg en te bemoedig sonder om te dink dat De Eike se “oop kerkgebou” die enigste oplossing is nie.
Die afgelope tyd het ek gesien hoe veerkragtig De Eike se lidmate is in die uitvoering van hulle roeping en getuienistaak. Drop & Go het lidmate verenig in die versorging van behoeftige mense. Kospakkies word by honger mense se adresse afgelaai. Elsabé Marais woel en werskaf in Green Park. Gesinne ontdek mekaar rondom die kombuistafel. Ouers spring in en ontwikkel geloofsgroei by hul kinders. Siekes ontvang boodskappe van ondersteuning. Die blokleiers hou hul lidmate deur middel van digitale boodskappe op hoogte van gemeentesake. Die dominees neem videopreke op en Tim en André plaas dit op die verskillende digitale platforms. Sommige kommissies vergader met ZOOM. Kleingroepe vorm “whatsapp” groepe en gesels gereeld met mekaar. Skielik het ons agtergekom dat, met behulp van digitale platforms, kommunikasie tussen lidmate vinnig en tydig kan geskied.
Ek ervaar dat daar ’n kopskuif plaasvind waarin mense kerkwees reg begin verstaan as diens aan die Here en nie die bevrediging van sosiale behoeftes nie. Ja, ons mis mekaar, en ja die kerkgebou kan dalk nog onbepaald gesluit wees. Dit is nie ’n lekker gevoel nie, maar tog besef ons dat ONS die kerk van Christus is. Kom ons rus onsself toe sodat ons getuienistaak nie afhanklik is van kerkgeboue nie. Kol. 3:12 Julle is die mense wat God uitgekies het wat Hy geheilig het en wat Hy lief het. Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek: liefdevolle deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld. Kom ons leef dit uit in grendeltyd en verder.
Chris Barnardo