14 Mei 2020
“DROP&GO” IS DANKSY JULLE ‘N WENRESEP!
Die afgelope drie Dinsdae het ons die “Drop&Go” projek in die gemeente van stapel gestuur. Ons is stil dankbaar teenoor elkeen van julle wat tot dusvêr aan hierdie projek deelgeneem het. Die Here kom en verras ons op tye wanneer ons dit die minste verwag. Tot op hede is ons oorweldig deur die wonderlike deelname en samewerking van De Eike se lidmate.
Hoe werk dit? Dinsdagoggende, tussen 10:00 en 11:00 bring lidmate ’n sakkie kos na die kerkgebou. Tafels word vooraf op die plaveisel uitgepak waarop die sakkies kos geplaas kan word. ’n Persoon is by die tafels teenwoordig wat jou sakkie kos by jou motor sal neem. Dus hoef jy nie eers uit jou motor te klim nie. Lidmate ry by die een hek in en by die ander hek uit. Daarna word die sakkies na die kerksaal geneem waar dit soort by soort sorteer word. Woensdagoggende kom die span weer by die kerksaal bymekaar sodat die kos verpak kan word. Tans pak ons kos vir twee persone vir een week.
Op die huidige oomblik is daar gesinne in De Eike wat regtig honger is. Vriende, ons kan hulle nie net los nie. Hierdie gesinne se kospakkies word Dinsdagoggende tussen 11:00 en 11:30 by die kerksaal afgehaal.
Wat benodig ons? Tans is daar ’n tekort aan die volgende items: Koffie, tee, toiletware, skoonmaakgoed, sout, speserye, kookolie, ontbytpap en blikkieskos bv. gemengde groente, “sweetcorn”, “bully beef”, pilchards en tuna.
Nogmaals dankie vir elkeen se toewyding in hierdie vreemde tyd van kerkwees. De Eike is voorwaar die plek vanwaar die Here Sy opstandingskrag loods.