14 Mei 2020

Kan jy nog onthou toe ek vroeg in die jaar vertel het dat, terwyl ons in Stilbaai met verlof was, ek duidelik gehoor het dat ons ’n 20-20 geloofsvisie moet ontwikkel sodat ons vêrder as vandag se uitdagings en hindernisse kan kyk? Min het ons toe geweet wat vir ons voorlê! CORONA het soos ’n dief in die nag homself stil-stil kom tuismaak in ons geliefde land met die gevolg dat daar tans soveel onsekerheid, angs, vrees en mismoedigheid onder mense heers. Met ’n 20-20 geloofsvisie KAN ons verder kyk as CORONA met al sy terugslae, seer en onsekerheid. Met ’n geoefende 20-20 geloofsvisie KAN ons die wenstreep raaksien terwyl ons in die voetspore van Jesus leef!

Juis in hierdie tyd waarin ons onsself begeef bied die boek Openbaring egte troos en hoop. Dis asof die boek juis vir ? tyd soos hierdie geskryf is. Dit herinner ons aan ons Vader wat op die troon sit, aan Christus wat tussen die kandelare (gemeentes) beweeg en die Heilige Gees wat alles nuut maak. Dit teken beelde van die nuwe toekoms, van die nuwe hemel en die nuwe aarde wat kom. God beloof dit. Daarom gee dit vaste hoop. En dit nooi ons uit – God maak nuwe deure vir ons oop – om met ’n 20-20 geloofsvisie vol geloofsmoed en entoesiasme, meegeneem te word in God se sending na die wêreld.

Ek nooi jou uit om tydens hierdie Pinkstertyd in De Eike, saam te oefen aan ons 20-20 geloofsvisie. Skakel in op De Eike se Face Book-blad of die webtuiste terwyl nege video-preke tydens nege geleenthede beskikbaar gestel gaan word.

Die gety is besig om te draai en  ons moet die Heilige Gees in ons lewens inlaat sodat ons radikaal verander kan word!

Chris.

NS. jy kan die hele program hier kry.