2 Oktober 2020

Liewe ondersteuner

Dit lyk asof ek binnekort weer baie van julle kan besoek en persoonlik kom hoor hoe dit gaan. Ek sien baie uit daarna. Hoop intussen dit gaan goed selfs al gaan dit soms swaar.

Ek sal eers begin volgende maand kan bevestig, maar deel graag met blydskap dat die getuienis kantoor heel waarskynlik die volle bedrag terug gaan ontvang wat hulle aan die Tumbine sinode in Mosambiek geleen het vir die koorspenne.

Baie dankie aan elke bydraer hieraan. Die Sinode het my gevra om asb. hulle dank oor te dra, want dit maak ‘n groot verskil aan die gemeenskappe. Hulle kan nou weer begin met byeenkomste in meeste van die gemeentes. Daar is hier en daar nog ‘n struikelblok, soos in Mocuba waar die regering ook badkamers vereis. Ons werk egter reeds daaraan deur ons vennote van die Gereformeerde kerk in die Strand.

Verder was daar in Sofala provinsie ook weer geskiet op busse. Bid asb daarvoor ook.

In die Noorde is daar op busse geskiet en as ek reg het is daar ongeveer 22 mense dood in die skietery. Nou is die laaste pad na Palma ook toe. André en Annemarie kan nou nie per pad uitkom nie. Die Here voorsien en hulle kan saam met mense wat op die gasvelde werk na Pemba vlieg om hulle werkspermit te hernu. Hulle vra voorbidding om te kan weet indien dit beter sal wees om eerder die gebied te verlaat en wanneer juis die bly daar die getuienis is wat die gemeenskap moet hoor.

Verder is ons saam met Johan en Enna verheug oor die 7 bekeerlinge in Namau (net noord van Pemba). Dit het gebeur na 20 jaar se werk. Hulle het ook 7 vroue vlugtelinge in hulle dorpie ontvang wat per boot gevlug het om weg te kom van die wreedhede in die noorde. Hulle mans is almal onthoof!!! Dink aan hulle trauma en nou moet hulle oorleef met seker net die klere aan hulle lywe. Bid saam vir hulle ook. Hoe kan Johan en Enna hulle geestelik en fisies bystaan.

Ek het die Mosambiekse ambasade gebel omdat die grense al hoe moeiliker word. Ek vra hulle toe of ek aansoek moet doen vir ‘n werkspermit. Die beampte het my verseker dat dit nie nodig is nie en dat die wat daarvoor vra by die grens dit doen weens korrupsie. Hy beveel my aan om nie te sê dat ek ‘n dominee is nie en net vir hulle bewys te gee van my verblyf plek en sê ek gaan besoek my vriende. Hy was duidelik ook ‘n christen en moedig my aan om voort te gaan met die werk.

Dit lyk asof die volgende uitreik in November gaan plaasvind. Kontak my gerus as enige iemand saam wil gaan. Daar is regtig baie werk, maar luister saam met my na ons Pa oor die wat, waar en hoe.

Baie dankie

Danie Murray