20 September 2024

Ek blaai vanoggend deur my dankbaarheidsjoernaal en kyk terug op die afgelope maand se inskrywings.  Dit vul my met ‘n oorweldigende gevoel van dankbaarheid dat ek só geseënd mag wees.  Ek sê meestal dankie vir die mense in my lewe.  Soms vir die voëls in my tuin, en soms wanneer ek aan niks spesifieks kan dink om voor dankie te sê nie, is ek net dankbaar dat ek aan niks kan dink waaroor ek kan kla nie.

 

My dankbaarheidsjoernaal is vir my kosbaar, want selfs al skryf ek nie elke dag iets daarin nie, kweek dit by my ‘n bewussyn of ‘n soort oplettendheid na die daaglikse seëninge wat oor my pad kom.  Wanneer ek in my joernaal skryf, doen ek dit biddend.

Dit verander my hele ingesteldheid wanneer ek die dag aanpak:

  • Ek is dankbaar wanneer ek die kombuis opruim, want dit beteken ons het kos gehad om te eet.
  • Ek is dankbaar wanneer ek die wasgoed was, want dit beteken ons het klere om aan te trek.
  • Ek is dankbaar wanneer ek my werk doen, want dit beteken ek het ‘n bron van inkomste.

Dit voel dikwels asof dit die “klein dingetjies” is waarvoor ek dankie sê.  Maar dan wonder ek: Is die “klein dingetjies” nie juis dié dinge wat regtig saak maak nie?

 

Oktober is tradisioneel Dankbaarheidsmaand in die kerk.  Jy behoort eersdaags jou Tiendemaand-dankofferkoevert te ontvang en ek wil jou graag uitnooi om saam met my voorraadopname te doen van die dinge waarvoor jy dankbaar is.