14 Augustus 2020

Liewe Gemeente,

Middernag van 31 Julie 2020 kry ek ? oproep wat my tot in my siel toe skok – my dokter deel my mee dat ek Covid positief toets. Hy praat met my oor moets & moenies, self isolasie, maar niks registreer nie. Daarna sê hy ek moet lekker slaap – nogal gedink hy’t ? wrang sin vir humor, want van slaap was daar geen sprake daai nag nie, my brein het oortyd gewerk. Ek’t daardie nag my kussing nat gehuil, met die Here geworstel, Hom gevra hoekom moes dit met my gebeur het, Hy weet hoe besig ons is.  Vrae oor hoe, wat en waar kon ek dit opgedoen het. (Ons sal dit nooit weet nie)

Ek moes onmiddellik my bevelvoerder in kennis stel, omdat ek die Donderdag in aanraking met kollegas by die kantoor was. My positiewe toets het ? groot rimpel effek by die werk gehad, nog kollegas moes isoleer ter voorkoming, ons gebou was 2 dae gesluit vir dekontaminasie, nog mense wat met my in aanraking was, moes ook vir toetse gaan. Daar gaan soveel stres, selfverwyt, angs deur jou as jy die omvang van als besef. Wat as ek die oorsaak is dat iemand anders positief toets, dalk doodgaan agv dit, al was dit onwetend, hoe lewe ek met daardie skuldgevoel saam?!

Ek & Sias was die week voor dit dokter toe, ek met brongitis & hy met ? keel infeksie (hy sukkel met die masker draery), ons is beide op sterk behandeling gesit. Ek’t verbasend vinnig herstel, gewoonlik sukkel ek weke lank om van brongitis gesond te raak.

Daai Donderdag ervaar ek skielik dat ek nou erg benoud en kortasem voel en met tye het ? doodse moegheid oor my gekom, dat ek net eenvoudig plat gaan sit het. Ek’t vir Sias gesê hier is fout, ons is toe saam terug Dr toe. Dr sê Sias is reg, daar’s niks fout met sy longe nie. Toe hy na myne luister, sê hy heel rustig vir my ek’t Covid longe, hy’s seker van dit. Ek’t regtig gehoop hy maak ? (siek) grap, maar hy was ernstig. Hy’t onmiddellik met intensiewe behandeling begin en my vir die Covid toets gestuur. Ek was daardie middag te laat, hul was reeds toe, so ek moes wag tot die Vrydag 31 Julie se oggend.

Sias het my die Vrydag oggend vir die toets geneem. Binne die toetslokaal was die koue kliniese omstandighede opmerklik, almal praat so sag. Vraelys met baie vrae wat jy moet voltooi. Die personeel is baie vriendelik en behulpsaam, maar jy kan sien hier word teen ? tempo gewerk, want daar kom baie pasiënte in wat getoets moet word. Ek sien ? klein bang dogtertjie, die Suster sukkel om haar toets gedoen te kry, want sy wil elke keer naar word. Hoe hul haar kalm hou, haar met soveel deernis help, dit was opvallend. Toe’s dit my beurt. Ek gaan net sê dis ? aaklige horribale gevoel as hul daai toetsstokkie in jou keel afdruk – my raad aan jul is, as jul vir ? toets moet gaan, moenie eet of drink voor dit nie.

Nou die gewag…. volgens die Suster neem die uitslae 3 dae. Jou kop werk oortyd, wat as dit so is, dan dink ek weer nee, ek’s seker die dokter het hierdie keer ? foutiewe diagnose gemaak. In my onderbewussyn het ek gewonder of ek nie dalk wel positief is nie, hoekom is ek so vreeslik benoud en kortasem dan? Maar die hoop beskaam nie, ek’t geglo ek gaan negatief toets. Tot daardie middernagtelike oproep, dieselfde nag as my toets….

Skielik moet jy begin prakties wees, daar’s baie reëlings ens wat nou getref moet word, maar dis moeilik, want die benoudheid en kortasem raak al erger, dit verg so baie van jou om nou kop te hou. Ek het net geweet ek kan nie alleen hierdeur gaan nie, ek is nie sterk – fisies en emosioneel – genoeg hiervoor nie. Gelukkig vir my is Sias saam met my in self isolasie geplaas – hy is gesond, het geen simptome getoon nie. Ek’t vir van my familie, vriende & ook my Nuwerus uitreikfamilie laat weet dat ek Covid positief getoets het.

Ons was onmiddellik toegevou met soveel gebede, boodskappe, ondersteuning, ? bederfie by ons voordeur, dit het ons klein en nederig laat voel! Ons hou daarvan om ander mense te help, om goed vir hulle te kan doen, nou is die rolle omgekeerd en ons ontvang in oorvloed. Dit verg nogal ? kopskuif om te ontvang sonder om skuldig te voel. Soveel aanbiedinge van hulp, almal gee raad – luister na almal s’n en gebruik wat vir jou werk. Ek’t ? paar goeie rate gekry wat my baie gehelp het.

Sias het van die begin van ons isolasie beheer geneem. Hy’t gesorg dat ek in die bed bly. Kyk, hy was ? meester sjef en het met die lekkerste ligte etes vorendag gekom. Jy kan nie regtig kos inkry nie, omdat jy so benoud is, so ek’t gou ? paar kg verloor. Hy’t vir my daagliks rooibostee met heuning in gemaak, want ons het agtergekom dit help my met die benoudheid. Ek weet nie waar om te begin vertel van hoe baie Sias vir my gedoen, beteken, ondersteun en aangedra het nie. Hy’t geweier dat ons in aparte kamers slaap, want hy’t gesê hy wil daar wees te alle tye as ek hom mag nodig kry, veral snags. Ons het darem sovêr moontlik die res van die tyd afstand gehou en bv nie uit dieselfde beker gedrink nie, ens. Niks was vir hom te veel nie. Hy’t my moed ingepraat as hy gesien het dat die virus my onderkry. Snags was die ergste, want dan het ek verskriklike hoesbuie gekry en het in asemnood gegaan. Daar was ? hele paar kere wat ek ? paniekaanval wou kry omdat ek nie asem kon kry nie, maar sy teenwoordigheid het my weer rustig gemaak. Daar was 2 nagte wat ek my vrees om in hierdie tyd na ? hospitaal toe te gaan, wou onderdruk en hom vra om my te laat opneem, want jou liggaam kan net nie meer hanteer nie. Maar die Here het my daardeur gedra, Hy het elke treë saam met my geloop.

Nagte wat ek so regop moes sit en probeer slaap het, was my geselstye met my God. Wanneer als so stil en donker rondom jou is, raak jy bewus van ? Groter Mag.

Self isolasie binne ? nasionale lockdown is geen grap nie. Jy word nog meer beperk tov hulp van buite. Ek kan nie beskryf hoe ongelooflik al die ondersteuning van familie, vriende, tot uit onverwagte oorde vir ons beteken het nie! Ek moes sommige dae my selfoon 2x herlaai het, so baie boodskappe en oproepe het ek gekry. Op ? stadium het ek Sias jammer gekry haha. Sodra hy gaan sit, bel iemand om te sê hul is hier buite met ? aflewering of ? bederfie, of die klokkie lui & daar staan ? aflewering met ? ruiker blomme en sakke vol bederf wat tussen my suster & niggies uit Gauteng uit vir ons gestuur was. Daagliks het paar van ons Nuwerus uitreikfamilie ons gekontak om te hoor hoe dit gaan, ons ondersteun, ook bederfies by die voordeur gelos. Ek’t tot gereeld boodskappe van bemoediging en gebede vanaf Nuwerus en omgewing se mense gekry. Die predikante wat jou kontak, boodskappe van bemoediging stuur, gemeentelede wat gehoor het en ook hulp aanbied. Dankie Here dat ons deel van De Eike gemeente is & soveel liefde ontvang!

Mense, ek kan eerlik sê, om Covid positief te wees, is geen grap nie. Almal het verskillende simptome, reageer verskillend op die virus. Sommige is gelukkig en ervaar geen of min simptome, ander sterf. Om in isolasie binne ? nasionale lockdown ook te wees, is nie maklik nie. Ondersteun mekaar, bied hulp aan (glo my dit is maar moeilik vir ? onafhanklike mens om wel hulp te vra) of gaan gee sommer net ? klein ietsie by die gesin af, net om te wys hul is nie alleen nie. Jul het geen idee hoe baie dit mens dra en vir jou beteken nie. Sommige mense is nie so gelukkig soos ek was om so ? ondersteunende man saam met my te kan hê nie, hul gaan alleen deur daai angstye van asemnood en ook eensaamheid.

Ons isolasie is verby, ek is nog op siekverlof tot die 16e Aug, maar Sias werk weer. Ek’s op die gesond word pad, daar lê nog ? lang paadjie voor voordat my longe weer 100% is, maar nou kyk ons net vorentoe en is ons oneindig dankbaar dat dit soveel beter gaan.

Ons wil net baie dankie sê aan ons Hemelse Vader wat ons hierdeur gedra het, ook vir soveel van De Eike wat ons ondersteun en bemoedig het, my familie, veral my suster, al sit sy in Pretoria. Sonder jul sou ons nie so maklik hierdeur gekom het nie!    

Liefde groete.

Sanet