14 Augustus 2020
Ek het onlangs die boek Prison to Praise van Merlyn Carothers vir ‘n tweede keer gelees, en dit het my weereens diep geraak. Die boek vertel Mnr Carothers se lewensverhaal, van hoe hy as ‘n absolute rebel (wat selfs in die tronk was) deur die Here verander is om later as kapelaan in die weermag diens te doen. Dit vertel ook hoe die Here hom geleer het om dankbaar te wees onder alle omstandighede, en dit die fondasie te maak van sy bediening. Van die getuienisse in die boekie is so ongelooflik mooi en verstommend wanneer mense hul vrees en hartseer vir die Here gee, dat jy net met verwondering (en ‘n paar trane ) kan dankie sê dat jy ook die Almagtige Vader ken en aan Hom behoort.
Naas vergifnis, begin ek al meer te dink, dat dankbaarheid een van die moeilikste dinge is om te doen. Dit is baie maklik om dankbaar te wees as jy iets gekry het waarvoor jy lank gewag of gehoop en gebid het, maar hoe maklik is dit ook om te vergeet om dankbaar te wees in jou alle daagse bestaan, om nie eens te praat van wanneer dit sleg gaan met jou nie…
Dankbaarheid, het ek besef, is ‘n werkwoord, wat elke dag beoefen moet word en is nie ‘n emosie waarop staatgemaak moet word nie. Dit is ‘n keuse wat jy daagliks deurentyd moet maak, veral in die grendeltyd waarin ons ons tans bevind. Druk is orals besig om toe te neem en ons word gebombardeer met negatiewe nuus en woorde wat dreig om elke bietjie sonskyn uit jou dag te steel.
Dit is hoe ek ‘n paar weke gelede gevoel het, maar genadiglik was dit in die tyd wat ek Prison to Praise gelees het. Ek het ‘n keuse gemaak om vir die Here dankie te sê vir dit wat oor my pad gekom het (al het dit geensins sin gemaak om dit te doen nie) en besef dat my dankie ‘n erkenning is dat ek nie kan nie, maar net Hy alleen kan. Ek het ook met my gebedsgroepie gedeel en met hierdie erkenning het ‘n bonatuurlike vrede alle vrees en angstigheid verdryf en werklike dankbaarheid het my gevul.
Uitdaging vir elkeen wat hier lees: Vat ‘n papiertjie en skryf aan die een kant drie dinge neer wat seer maak of waaroor jy bekommerd is. Draai dit om en skryf drie positiewe dinge neer waarvoor jy dankbaar is. Sit dit in ‘n koevertjie en bid daaroor. Sê vir die Here dankie vir elkeen van hulle (al maak dit nie sin nie). Doen dit vir ‘n week lank en ervaar hoe die Here jou verander.
Franci Gresse
Voorsitter Jeugkommissie