24 Mei 2018
‘n Basaar gebeur nie sommer net nie. Baie mense werk baie hard om ‘n sukses te maak van dié geleentheid. Daarom wil ek sommer begin deur dankie te sê aan almal wat reeds vir maande baie hard agter die skerms werk.
In besonder wil ek al ons blokleiers, wykleiers en dienswerkers bedank wat ons hande en voete in die gemeente is. Hulle versprei getrou die basaarlyste na die lidmate, samel dit (en die beloftes wat daarmee saamgaan) weer in en besorg dit by die kerkkantoor.
Baie dankie ook by voorbaat aan al die konvenors wat jaar na jaar die voortou neem by jul onderskeie tafels. Vanjaar het ons ook ‘n paar nuwe konvenors. Baie dankie aan julle ook en sterkte met jul tafels.
Aan elke De Eike lidmaat wat reeds ‘n bydrae gegee het of nog gaan gee, aan julle ook ons hartlike dank. Indien jy nog nie ‘n bydrae gegee het nie en wonder wat om te gee – ons benodig nog van die volgende: MAYONNAISE, KONDENSMELK, LANGLEWE MELK, BAKPOEIER, EIERS, en MOSTERTPOEIER.
Lidmate wat graag ‘n kontantbydrae wil gee, kan dit by die kerkkantoor doen, of die geld bloot in ‘n gemerkte koevertjie Sondag in die kollektemandjies plaas. Elektroniese oorplasings kan ook gedoen word. Ons bankbesonderhede is soos volg:
ABSA BANK, Kuilsrivier – takkode 632005
Tjekrekening nommer 3010590069
Verwysing: Basaar
Nou nooi ons almal uit om volgende Saterdag vanaf 09:00 ons basaar te kom ondersteun. Al die ou gunstelinge gaan weer daar wees – pannekoek, poeding, groot koeke, terte, klein koekies, brood, beskuit, hamburgers, vetkoeke, slaaie, lekkers vir die kinders, afval, melkkos, biltong, heuning, worsrolle, boepensbroodjies (jaffles) en natuurlik worsjorsies. Moenie vergeet van die lekker vars vleis, die groente daarmee saam en die wyn om dit mee af te sluk nie.
Daar gaan pragtige naaldwerk items wees, baie materiaal en weer die fraaiste produkte wat gemaak is van almal se ou, stukkende jeans. Hierdie tafels gaan jy in die konsistorie en die moederskamer kry.
Moenie vergeet van die boeke (aan die onderpunt van die konsistoriegang in die koster se kantoor) nie en koop gerus ‘n paar plante vir die tuin – daar gaan pragtige “waterwys” plante wees. Daarby sal daar ook weer ‘n “Dit en dat tafel” in die saal wees, waar jy kan snuffel vir ‘n winskopie. En natuurlik ook die veiling!
Geniet gerus ‘n lekker koppie koffie of tee of ‘n koeldrank in die saal of in die groot tent waar ook tafels gaan wees. Koop jou eie De Eike beker en geniet die res van die dag “bottomless” koffie en tee.
Omdat ons gras parkeerterrein op die oomblik in so ‘n sanderige toestand is, gaan die groot tent vanjaar op die klein teer parkeerterrein aan die Pionierstraat kant opgeslaan word. Die boepenbroodjies en worsjorsies gaan egter in ‘n aparte tent op die gras wees sowel as die kinderaktiwiteite.
Ons hoop ons sien julle almal daar!
Mariana van Schalkwyk