2 November 2017

Ons was gestuur om die mense van Nuwerus te gaan bedien…toe word ons bedien!

Wat aanvanklik beplan was om ’n uitreik vir die belydenisklas te wees, het gegroei tot ’n volwaardige uitreikspan met drie doelwitte:

  • Om 10 ton lusernpille vir die boere van Nuwerus te neem.
  • Om die kinders van Nuwerus te bedien.
  • Om ’n kankerpasiënt te gaan versorg.

Die Here het ons verras en kan ons met dankbaarheid getuig dat hierdie uitreik mens en dier se lewens aangeraak het. Die dankbaarheid op ’n kindergesiggie toe sy vir eerste keer in haar lewe haar eie waslappie en Bybel vashou het groot manne laat huil.

Die boere se uitbundige vreugde toe elkeen met 8 sakke lusernpille op hul bakkies by die Sportsaal kon wegry, is in elke belydenisklaskind se hart ingebrand.

Toe tannie Ragel, gediagnoseer met keelkanker, deur De Eike se vrouens bedien en versorg kon word, was ‘n heilige Jesus-oomblik.

Sondagoggend het die uitreikspan saam met die gemeente Reformasie 500 gevier en saam om die Nagmaalstafel gesit en die tekens gebruik. Met dankbare harte is ons oortuig dat De Eike as gestuurde gemeente elke dag Matteus 28:19-20 wil leef en bely op ’n tasbare wyse. Aan God al die eer!