23 Julie 2020

Teen dié tyd het die meeste van ons lidmate al seker gehoor van die Roadhouse Basaar wat ons vir Saterdag 22 Augustus 2020 beplan.

Alles wat jy nodig het om te weet, is al gesê.

Ek gaan dus slegs die hoogtepunte aanraak dié week.

Die basaar vind plaas op Saterdag 22 Augustus 2020.

Jy bestel dit wat jy graag wil hê, teen 4 Augustus 2020 en doen ook dadelik jou betaling om die bestelling te bevestig, of tref ‘n reëling met die kerkkantoor as jy dalk eers later kan betaal.

Die volgende produkte is op die spyskaart – pannekoek, worsjorsies, hamburgers, boereworsrolle, boepensbroodjies, vetkoeke (met of sonder vulsel) en poeding (warm of koud). Die bestelvorm is hier op die webwerf beskikbaar. Jy kan dit sommer daar voltooi en indien.

Die unieke De Eike Roadhouse 2020 logo wat vir ons ontwerp is, word op die bekers en glase gedruk as ‘n aandenking van dié geleentheid.

Die oggend van 22 Augustus kom jy tussen 10:00 en 12:00 na die kerk, gebruik die ingang in Van der Heeverstraat, kry ‘n afskrif van jou bestelvorm en ‘n nommer, parkeer jou motor en wag in jou motor vir iemand om die bestelvorm te kom haal. Die bestelling sal dan weer by jou motor afgegee word, waarna jy kan vertrek deur die hek in Pionierstraat.

Indien jy ‘n probleem met vervoer het, ons het daarvoor ook ‘n oplossing – ons eie “Mrs. Delivery” wat jou bestelling by jou huis sal kom aflewer. Skakel met die kerkkantoor om dit te reël.

Behalwe deur ‘n bestelling te plaas, kan jy ook op een van die volgende maniere betrokke raak:

  • skenk bestanddele – sien lys van items benodig hieronder
  • skenk kontant waarmee ons bestanddele kan aankoop
  • skenk voorbereide poeding – warm of koud
  • bied jou hulp aan by een van die tafels betrokke

Kontak gerus die kerkkantoor om jou hulp aan te bied, op welke manier ook al.

Bestanddele benodig:

Koekmeel                                Bruismeel                                Bakpoeier

Suiker                                      Kaneel                                     Eiers – ekstra groot

Kookolie                                  Spray & Cook                         Margarien vir smeer

Jellie                                        Vla                                           Blikkies ingelegte vrugte

Langlewe melk                       Ideal Melk                               Kondensmelk

Kakao                                      Maalvleis                                 Mayonnaise