26 Junie 2020

‘n Jaar gelede sou ons nooit kon glo hoeveel 2020 se werklikheid sou verskil van dÍt wat ons vir onsself in die vooruitsig gestel het nie.  Sommer so sonder waarskuwing, is só baie van die planne wat ons gehad het, nie meer uitvoerbaar nie.  Dit stel ons daagliks voor die uitdaging om nuwe planne te maak.

Helen Keller inspireer met hierdie wyse woorde: “A bend in the road is not the end of the road… unless you fail to make the turn.”

In die lig van die veranderde omstandighede, is die goedgekeurde begroting vir die huidige finansiële jaar nie meer realisties nie en sou dit onverantwoordelik wees om dit nié te hersien nie.  In Februarie het ons begroot vir ‘n tekort van R43 000, wat op daardie stadium heeltemal realisties was en gemaklik bestuur sou kon word.  Dit was egter gebaseer op die aanname dat ons sou voortgaan met al ons gereelde fondsinsamelings.  Dit is nie meer die geval nie.

Konserwatief geskat, is die verwagting dat ons huidige jaar inkomste R600 000 minder as oorspronklik begroot sal wees, wat totale begrote inkomste nou op net meer as R3,4 miljoen te staan bring.

Dit is R600 000 se vetrolletjies wat De Eike se begroting binne die volgende 8 maande sal moet afskud.

Die dieetplan lyk as volg:

  1. Gesonde eetgewoontes

Proteïene (Personeel en getuienis)

Net soos proteïene die noodsaaklike boublokke in ons liggame is, beskou ek die betaling van ons personeeluitgawes, asook alle gereelde getuienisbydraes, as ononderhandelbaar.  Geen veranderings is aan hierdie gedeeltes van die begroting gemaak nie.

Kalsium (Administratiewe en bedryfsuitgawes)

Kalsium is nodig om die geraamte sterk te hou.  Net so is sekere uitgawes nodig sodat die struktuur van gemeente behoue kan bly.   Kommunikasie met ons gemeentelede bly van kritiese belang en is ‘n noodsaaklike deel van ons eetplan.  Effektiewe administrasie en die onderhoud van ons eiendom en toerusting is ewe belangrik.

  1. Porsie-groottes

 Koolhidrate (Sinodale aandeel)

‘n Onlangse bemaking uit ‘n boedel het dit vir die Wes-Kaapse Sinode moontlik gemaak om gemeentes se Sinodale aandeel met 25% te verminder.  Dit bring vir ons gemeente ‘n besparing van byna R74 000 mee.

Vette en olies (kommissiebegrotings)

Dit is belangrik om te onthou dat ons ook gesonde vette in ons dieët nodig het, daarom is die kommissies se begrotings besnoei waar dit moontlik was, maar daar word steeds voorsiening gemaak vir voldoende fondse om met hulle kern-aktiwiteite te kan voortgaan.

  1. Energie-bronne

 Ons gemeente is gedurende die afgelope paar jaar ryklik geseën en kon danksy versigtige beplanning vir onsself kontantreserwefondse bymekaar maak.   Hierdie reserwes kan nou aangewend word waar ons kontantvloei ‘n hupstoot nodig mag kry.

  1. Gereelde oefening

 Gereelde en gefokusde oefening is die enigste manier om van hardnekkige vetrolletjies ontslae te raak.

Die bestuur van die gemeente onderneem om die oorblywende 20% tekort in die COVID-19-aangepaste begroting deurlopend aktief te bestuur.  Opwarmingsoefeninge in die planne om van hierdie laaste vetjies ontslae te raak, het reeds begin.

‘n Draai in die pad is geensins ‘n doodloopstraat nie – mits ons bereid is om ook van rigting te verander.