19 Mei 2023
Liewe vriende,
Ek sê graag baie dankie vir elke bydrae wat ons ontvang. U gereelde bydrae maak dit vir ons moontlik om met ons gemeentelike dienswerk voort te gaan en ons roeping as gemeente uit te leef.
Die Fondse Kommissie doen ook graag sy verantwoordelikheid gestand om gemeentelede in te lig rakende die spandering van hierdie fondse ontvang. Ek doen dit aan die hand van die afgelope finansiële jaar se werklike syfers, wat soos volg grafies voorgestel kan word:
Syfers maak egter selde sin wanneer dit in isolasie beskou word, daarom gee ek ook die vorige jaar se syfers vir vergelykingsdoeleindes.
Oor die algemeen beskou ek die 2022/2023 spandering as ‘n meer gesonde verdeling van uitgawes as die vorige jaar, maar neem asseblief in ag dat die nadraai van die Covid-19 pandemie tog nog ‘n uitwerking gehad het op ons “normale” bedrywighede gedurende die 2021/2022 jaar, en dat, alhoewel daar reeds ‘n groot mate van herstel gedurende 2021/2022 was, 2021/2022 nog nie as ‘n norm van ons normale spandering gesien kan word nie. In daardie opsig reken ek dat ons die 2022/2023 syfers as ‘n beter maatstaf vir toekomstige spandering sal kan gebruik.
Soos in die verlede, word die grootste gedeelte van ons beskikbare fondse aan personeelvoordele spandeer. Nie net verseker ons personeel dat die gemeente op goed-ge-oliede wiele loop nie, hulle bedien ons ook op ‘n daaglikse basis met hulle tyd en gawes.
Die tweede grootste uitgawe (2023:10%; 2022:8%) is ten opsigte van getuieniswerk. Dit is hier waar ons aan die roeping van die kerk gehoor gee.
Administratiewe uitgawes (2023: 10%; 2022: 9%) omvat die uitgawes rondom die gladde funksionering van die gemeente, maar sluit spesifiek alle uitgawes rondom kommunikasie met gemeentelede en ook na buite in.
Ons het gedurende 2022/2023 ‘n kleiner Sinodale Aandeel betaal (2023: 5%; 2022:8%) omdat die formule vir die Sinodale Aandeel gebaseer is op 2 jaar vantevore se werklike finansiële resultate. Dit beteken dat die Sinodale Aandeel vir 2022/2023 op die werklike syfers van 2020/2021-jaar gebaseer is, toe ons werklike inkomste as gevolg van die Covid-19 pandemie wesenlik laer as die vorige jare was. Die Sinodale Aandeel vir die vergelykende jaar (2021/2022) was nog gebaseer op ons inkomste in ‘n “normale” / pre-Covid-jaar.
Die gereelde betaling van die Sinodale Aandeel maak dienswerk op Sinodale vlak moontlik, wat as gevolg van hefboomkragte, ‘n baie groter reikwydte het as die werk van individuele gemeentes. Die Sinode staan dus in diens van alle gemeentes. Bo en behalwe die praktiese ondersteuning van gemeentes, word daar ook voorsiening gemaak vir die ondersteuning van gemeentes in finansiële nood.
Ten slotte het ons spandering aan die instandhouding van ons eiendomme, asook die uitgawes van ons ander kommissies, verdubbel van 1% na 2% en 2% na 4% onderskeidelik.
Dit is die Fondse Kommissie se visie is om deur middel van goeie finansiële bestuur en besluitneming ‘n gesonde finansiële posisie vir die gemeente te verseker, terwyl aan die gemeente se behoeftes, sowel as aan die Kerk se roeping, voldoen word.
Ek neem die vrymoedigheid om te vra dat u die kommissies wat verantwoordelikheid aanvaar vir die spandering van ons gemeentefondse in u gebede aan die Here sal opdra.
Kontak gerus ook die kerkkantoor indien u graag by enige van die gemeente se kommissies betrokke wil raak.
Elmari Schwenke-van der Walt
Voorsitter: Fondse Kommissie