16 November 2017
By die Rehabilitasiesentrum vir Roofvoëls by Spier, het De Eike se groep van 43 senior burgers ’n uitsonderlike stukkie omgee vir die natuur beleef. Hierdie fasiliteit staan bekend as Eagle Encounters, want dis presies wat daar met ‘n mens gebeur – jy ontmoet ’n sekretarisvoël, of ’n kransaasvoël, ’n geelbekwou*, ’n bleeksingvalk, ’n rooiborsjakkalsvoël of ’n nonnetjie-uil van aangesig tot aangesig. Die lys is eintlik veel langer!
Elkeen van hierdie fantastiese voëls is by die sentrum ingeboek met ’n storie, ’n ‘sad’ storie, want iewers het dinge vir hulle skeefgeloop, of liewer skeefgevlieg. Oorhoofse kragdrade, motors en veral mense, het veroorsaak dat hulle met lewensbedreigende beserings sit. Hoe jag ’n visarend met slegs een oog? Of ’n valk sonder sy stertvere? Sekretarisvoël sonder tone!
Woensdag 8 November was ‘n snikhete warm dag om buite te wees; nie net die kraaie het gegaap nie. Saam met ’n groep baie blekerige Duitse toeriste, ook Christene van een gemeente, het ons gesien hoe daar met hierdie hoogs gespesialiseerde geveerde vriende gewerk word – met baie toewyding en sorg. Nonnetjiesuil kom sit op jou hand, sodat jy sy fantastiese sagte vere kan voel!
Ná die interessante ervaring het ons lafenis onder Spier se reuse koeltebome gaan soek. Self iets gaan koop om te eet en drink. Met die bus (sagte sitplekke, lugreëling, baie vriendelike bestuurder) terug gekom. Wat ’n voorreg.
Om bewusgemaak te word van die impak wat ons manier van leef op die voëls in ons omgewing het.
*Die geelbekwou het ‘n diepgevurkte stert wat hom onderskei van ander roofvoëls. By die sentrum kry hy nuwe stertvere (prostese) waarmee hy weer kan navigeer om sy kos in vlug raak te vang en te vreet. Dís omgee!
Om nog fotos te sien kliek hier.