14 Februarie 2025

  • Vertel ons ’n bietjie oor jouself?

Ek is ‘n doodgewone ou, wat hou van goeie koffie, goeie wyn, musiek waarmee ek kan saamsing, goeie geselskap, en ’n vleisie braai. Ek is mal oor die natuur en die buitelewe. Ek verken graag nuwe plekke. Ek hou daarvan om op agterpaai rond te toer. Ek hou ook daarvan om te gaan kamp.

 

Ek het ‘n klomp stokperdjies, dalk selfs te veel. Fiets ry, visvang en fotografie is die drie waaraan ek op die oomblik die meeste van my vrye tyd spandeer en is ook ’n groot lugvaart fanatikus.

 

Meeste van my vriende sal my beskryf as ‘n mens mens. As iemand wat altyd bereid is om te dien en te help waar ek kan. Ek glo ons moet mekaar opbou en ondersteun eerder as om mekaar af te breek. Ek het ook ‘n gesonde humor sin en daarmee saam ‘n gebalanseerde terggees. Ek is ‘n positiewe mens wat die silwer rand in elke donderwolk raaksien. Ek sal eerder deel wees van die oplossing as van die probleem.  Ek is ‘n kreatiewe en innoverende persoon wat nie bang is om my hande vuil te kry om die werk te doen nie. Ek vra graag die vraag “hoekom”? Omdat ek graag wil sinmaak, verstaan en ‘n beter begrip hê. Ek hou ook daarvan om die groter prentjie in gedagte te hou wanneer mens fyner na die detail van ‘n saak kyk.

 

Ek probeer elke dag getrou aan myself, my waardes en roeping leef. Ek gee nie voor dat ek al die antwoorde het nie, ek weet ek het nie al die antwoorde nie, maar is bereid om saam met mense te soek na die regte antwoord. Wanneer ek opdaag, daag ek tenvolle op en as ek iets aanpak gee ek my beste.

  • Hoe groot is/was julle gesin (broers en susters)?

Ek is deel van die Janse van Rensburg familie, sonder die ‘n’. Siener is nie deel van ons familie nie, alhoewel ek en my suster as kinders soms geglo het dat my ma op een of ander manier familie van hom is omdat sy ons so maklik uitgevang het. Ek is bevoorreg dat my ma en pa nog leef. Ek is die oudste en het ‘n suster wat as jongste ons nog op ons tone hou. Sy is getroud en het ook twee klein kinders wat ouma en oupa om hulle pinkies gedraai hou. Saam met my swaar is ons ewe veel mans en vroue in die familie.

  • Waar is jy gebore en waar het jy grootgeword? 

My ma moes voor my geboorte, destyds nog met ‘n Dakota, van Nelspruit na Pretoria gevlieg word vir ‘n nood keiser toe ek so bietjie vroeër die lewe in die oë wou kyk. Ek is daarna terug na die Laeveld waar ek groot geword het en skoolgegaan het.

  • Universiteit? 

Nadat ek my roeping ontvang het, het ek by Stellenbosch gaan studeer en my graad in Teologie voltooi.

  • Was Nieuwoudtville jou eerste gemeente? 

Nieuwoudtville was nie my eerste gemeente nie. Na ek my graad gekry het was daar baie min poste in die kerk beskikbaar. Ek kan (on)gelukkig nie stil sit nie en het reg oor die Kaap uitgehelp met preekbeurte, en toe as aflos Dominee in die Kalahari by Vergelegen gemeente uitgehelp. My eerste amptelike vaste termyn pos was in die Oos Kaap toe ek beide Maclear en Ugie gemeentes bedien het vir vier jaar. Ek is daarna beroep na Nieuwoudtville gemeente waar ek 6 jaar bedien het.

  • Wat is die belangrikste ervarings/lesse wat jy van Nieuwoudtville af saambring en wat jy ook graag hier sal wil toepas?

Op Nieuwoudtville het ek ervaar dat die lewe nie altyd eenvoudig of maklik is nie. Soms kom die reën nie. Soms word skape siek. Die rooibos tee val of die weerlig slaan veld aan die brand en brand groot gedeeltes van jou weiding of oeste tot nie.

 

Dit het my laat besef ons as mens is broos en selfs gebroke. Broosheid, uitdagings en selfs die swaarder dinge in die lewe herinner ons aan ons afhanklikheid van God en van mekaar.

 

Sonder God kan ons nie een tree vorentoe nie. Net so kan ons sonder mense wat saam met ons stap, in ons glo, en ons soms dra, nie die lewe aanpak nie.

 

Die diepste kern behoefte by ons almal is om te behoort. Om deel te voel van ‘n groep, en selfs iets groter.  Ongeag hoe oud of jonk ons is. Ongeag hoe goed of hoe sleg dit met ons gaan. Ongeag of ons op ‘n goeie plek is of nie. Ons wil deel wees.

 

Die kerk is veronderstel om ‘n gemeenskap te wees wat daardie behoefte aanspreek. Juis omdat ons God se hart ken en Sy liefde, genade en omgee al beleef het.

 

Ons kan net kerk en Kind van die Here wees omdat God sy liefde en genade en omgee aan ons gewys het.

 

As dit ons wegspring plek is dan kan die kerk nie anders as om ‘n gemeenskap van gelowiges wees wat na mekaar omsien, vir mekaar lief is en mekaar ook help en ondersteun wanneer ons broos is of moeiliker dae beleef nie.

 

Die blom seisoen in Nieuwoudtville het my ook weereens herinner dat ons meer kere op geen manier kan weet en beheer hoe God werk nie. Ons is 90% van die keer ook nie in beheer nie. Selfs al dink ons so. Hierdie tyd van die jaar is Nieuwoudtville ‘n droewige plek. Teen 10uur brand die son al in die middel of hoë 30’s. Alles is tot niet gebrand of stukkend gewaai. Mens draai maklik by vrae soos: Wat soek mens hier? Hoe oorleef mens? Is daar nog lewe?

 

Maar met laat die donderweer net so rapsie oor die 20 millimeter reën in Februarie of maar laat val en die streek word oorweldig deur die skouspel van die Maartlelie’s. ‘n Bolplant met ‘n lewens siklus wat reeds in August van die vorige jaar begin.

 

Dan praat ek nie eers van die prentjie mooi asemrowende blomme prag wat die streek onverwags in die winter herinner aan die woorde van die bekende digter dat daar met die groot saai dag oor die kaal Noordweste ‘n sakkie van God se beste saad plek plek uitgeval het.

  • Waarop sal jy graag fokus in jou bediening by De Eike? 

Om saam as ‘n geloofsgemeenskap te soek na dit wat God se wil vir ons as gemeente is en om saam daardie roeping uit te leef.

  • Het jy enige voorkeure mbt die bediening van jonger of ouer lidmate?

Ek werk gemaklik binne die volle spektrum van ‘n gemeente hetsy dit met jonger of ouer lidmate is.

  • Wat is jou musiekvoorkeure mbt eredienste?

Ek het nie noodwendig ‘n musiekvoorkeur met betrekking tot eredienste nie. Erediensmusiek, na my mening, moet die boodskap, die beweging of selfs net die ruimte van ‘n spesifieke erediens dien. Of dit orrel spel of ‘n meer kontemporêr opname is. As dit op daardie oggend die teks en die boodskap wat God bring dien glo ek het ‘n rol in die erediens.

 

Dit gesê, kan ek nie maklik oorreed word dat ‘n lied soos Genade Onbeskryflik groot of Praat ek mense Eng’ lê tale mooier kan klink as wanneer dit met die orrel gespeel word. Ek weet ook hoeveel waarde Flam en Vonkk inhou deur Jeugsangbundel liedere op nuwe maniere vir ons aan te bied.

 

Ek het oor die algemeen ‘n diverse musiek smaak en keer op keer word ek verras oor watter wêrelde vir my oopgaan wanneer ek na verskillende musiek luister. Ek glo dit geld ook vir erediens musiek. Ons kan die Here net op soveel meer maniere beleef en ervaar.

  • Is jy van plan om in De Eike (soos in Nieuwoudtville) jou gewig in te gooi by die pannekoektafel?

Dit is deel van my natuur om te dien. Wanneer ek pannekoek bak ervaar ek dit as een van die maniere waarop ek ander dien. Ek sal ongetwyfeld my gewig ingooi by die pannekoektafel.