27 Julie 2018
Die Tafelleiers by vanjaar se Alpha-kursus
Ons het ons harte vasgehou en gehoop… Tafelleiers is opgelei, die kosspan is slaggereed. Ons voorbereiding is afgehandel. Die materiaal is instudeer. Klokslag, wanneer die kerkkantoor se deure vroegoggend oopswaai, het ek vir Cathy gebel en gevra: “Hoeveel mense het al ingeskryf?” Moes ek die program kanselleer? Is dit die moeite werd om die program vir ’n handjievol mense aan te bied?
Een en vyftig mense het opgedaag vir ons eerste ontmoeting! Goeie kos en lekker geselskap om die tafels skep ’n gemaklike atmosfeer terwyl ons ons harte vir mekaar oopmaak met die vrae wat ons antwoord. Ek dink dat elkeen sielskos ontvang tydens hierdie Woensdagaande in die kerksaal. Vrae soos: Wat maak jou gelukkig? Met wie deel jy jou kwelvrae oor die lewe? Wie is Jesus? Het Jesus regtig opgestaan uit die dood?
Van volgende week af gaan die tafelhoofde geleentheid kry om hulle Alpha-ervaring met die gemeente te deel. Kyk uit op E-nuus en stap saam met ons op hierdie opwindende reis saam met Alpha.
Ek het net weer besef. Ons moenie toelaat dat die wêreld ons hoop steel nie. Die Here verras ons om elke hoek en draai. Selfs wanneer een en vyftig mense hulle hande opsteek en aanmeld vir Alpha! Ek is stil tevrede en dankbaar. (Chris Barnardo)