14 Junie 2018

Buitelandse studente kuier by De Eike
You gave me your time, the most thoughtful gift of all” – unknown

As ek hierdie gesegde lees, raak ek bewus aan die buitelandse studente se besoek by De-Eike.  ‘n Besoek wat beide die buitelandse studente en gaste ouers se lewens diep aangeraak het.

Dit was besonders om te hoor hoe ons besoekers getuig, met groot opgewondenheid, oor De Eike se gasvryheid.  Dit was ook besonders om te hoor hoe ons gaste ouers getuig oor die studente se besoek aan De Eike.  Die akademie gebruik die woord “inreik” om iets hiervan te omskryf.

Vir die wat nog nie weet nie, die afgelope week het ons 12 studente en 4 dosente van Slowakye, VSA, en Pakistan by De Eike ontvang.  Hulle het twee nagte by ons oorgeslaap.

Sondag aand het hul selfs die erediens bygewoon.  Dit was ‘n baie interessante ervaring, omdat die hele erediens in Engels plaasgevind het, en vier van die besoekers ‘n ander geloofsoortuiging gehad het.  Die mense wat dan die meeste getuig het van De Eike se gasvryheid, was dan juis die besoekers met ander geloofsoortuiging.  ‘n Besondere getuienis vir De Eike.

Maandag het die besoekers Stellenbosch besoek en Maandag aand het al die gaste ouers en besoekers ‘n gemeenskaplike maal gehou in die kerksaal.  Ons besoekers was blootgestel aan tradisionele “choppies,” sosaties, boerewors, aartappelslaai, tuisgebakte brood, en malvapoeding.  Daar was saam gelag, gedroom, gewonder en gepraat oor menswees.

As ‘n leraar, het ek net weer besef dat gasvryheid die hartklop van dissipelskap is.  As ons nie saam ander kan eet en kuier nie, hoekom wil ons dan praat oor Jesus.  Ek is ontsettend dankbaar teenoor al die gaste ouers.  Die Here het julle op ‘n merkwaardige manier gebruik om ander se lewens te verander.  Ek het lanklaas in my lewe so iets beleef, waar mense hul harte, huise, menswees, en siele oopgemaak het vir ander.  Ek kan vanoggend opreg sê dat ek trots is om deel te kan wees van De Eike se familie.

You gave others your time, the most thoughtful gift of all.”  Dankie aan al die gaste ouers.   Dankie aan Elim gastehuis.  ‘n Besondere dank aan Tim en al die kerkkantoor personeel.  Julle was “awesome, amazing!”