8 Maart 2019

Oorsig oor die 2018/2019-jaar:

Ons staan voor die Here in diepe afhanklikheid en met groot dankbaarheid vir die seën wat ons gemeente die afgelope jaar beleef het.   Alhoewel die doelwit wat ons vir die Legkaartprojek gestel het, nie bereik is nie, het ons met ons ander 3 groot fondsinsamelings gesamentlik ‘n verstommende R121,000 meer ingesamel as waarvoor ons begroot het.

Ons uitgawes is deurgaans baie oordeelkundig bestuur, sodat ons sowat R100,000 minder spandeer het as waarvoor begroot is.  Opsommend: terwyl ons begroot het vir ‘n tekort van R63,100, het ons die jaar afgesluit met ‘n surplus van R56,000.

Begroting 2019/2020

Ons begroot vir totale inkomste van R3,735,000, wat bitter min verskil vanaf die vorige jaar se totaal.  Terselfdertyd kon ons daarin slaag om die verhoging in totale uitgawes tot slegs 1,9% te beperk, gedagtig aan die finansiële druk waaronder huishoudings tans gebuk gaan.  Dit bring mee dat ons begroot vir ‘n tekort van R126,653, wat gedeeltelik uit die 2018/2019 surplus befonds sal word.

Kerkraadsbesluit

Die taak van die Fondse Kommissie is die bestuur van en verslagdoening oor gemeentefondse, wat beteken dat die Kommissie se fokus grotendeels op die besteding van fondse, eerder as die insameling daarvan, val.  Om hierdie leemte te vul, is tydens die kerkraadsvergadering van 27 Februarie besluit om ‘n Fondsinsamelingskommissie in die lewe te roep, wat as ‘n sub-kommissie van die Fondse Kommissie sal funksioneer.  Die bestuur van die Legkaartprojek sal aan hierdie Kommissie oorgedra word.

Die Fondse Kommissie wil graag elke gemeentelid bedank vir die voortgesette ondersteuning van ons gemeente-aktiwiteite en fondsinsamelings.