24 Augustus 2018

Sondag 19

Vraag 50: Waarom word daar bygevoeg: en sit aan regterhand van God?

Antwoord: Christus het na die hemel opgevaar sodat Hy Hom daar as die Hoof van sy Christelike kerk kan betoon, deur wie die Vader alles regeer.

Vraag 51: Watter nut bring hierdie heerlikheid van ons Hoof Christus vir ons?

Antwoord: Ten eerste dat Hy deur sy Heilige Gees die hemelse gawes in ons, sy lede, uitstort. Ten tweede dat Hy ons met sy mag teen alle vyande beskerm en bewaar.

Vraag 52: Hoe word jy getroos deur die wederkoms van Christus om die lewendes en die dooies te oordeel?

Antwoord: Dat ek in alle droefheid en vervolging dieselfde Persoon met gespanne verwagting as Regter uit die hemel verwag wat Hom tevore in my plek voor die regbank van God gestel en alle vervloeking van my weggeneem het. Verder: dat Hy al sy en my vyande in die ewige verdoemenis sal werp, maar my, saam met al die uitverkorenes, na Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid saamneem.

In die Ou Nabye Ooste het dit so gewerk: Die koning sit op sy troon, want hy is uit die aard van die saak die heel belangrikste. Aan sy regterkant sit sy hoof uitvoerende beampte, die heel belangrikste persoon in sy ryk. Die koning ken hom in al sy planne, sodat hy in elke situasie presies weet wat die koning se wil is. Hy verteenwoordig die koning ten volle: as jy met hom te doen het, het jy eintlik met die koning self te doen. Jy eer die koning deur hóm te eer!

Dit sê die Bybel, is waar Jesus na sy hemelvaart is, tot vandag toe. Nadat die Here sy soenoffer volkome aanvaar het, het Hy dit gedemonstreer deur aan Hom die aller-ereplek in die heelal te gee. Daar het Hy volle gesag oor God se kinders, en regeer alles. Hy is die Hoof.

Vir ons is dit natuurlik wonderlike nuus, want dit beteken dat Jesus, ons Hoof, alle mag het om sy kinders hier op aarde te seën en te beskerm. En die eerste ding wat Hy gedoen het, is om sy Gees oor ons uit te stort, sodat ons vir God altyd by ons kan hê, en elke oomblik van elke dag sy leiding en sy beskerming kan ervaar. Nou verstaan ons wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het dat Hy ons nie by die hemelvaart as wesies agterlaat nie – dit was deel van God se plan, om selfs nog nader aan ons te kom!

Maar elke keer wat ons dit bely, bely ons daarmee saam dat dit nie die einde van die storie is nie. Want hierdie selfde Jesus het immers vir ons belowe dat Hy eendag weer kom – om hoofsaaklik twee goed te doen. Die eerste is die oordeel, wat die sonde in ons wêreld finaal die nek gaan inslaan. En asof dit nie genoeg is om na uit te sien nie, gaan Hy ook ‘n tweede ding doen: Hy gaan ook ons wêreld kom herstel, en ons by Hom kom neem. Vir oulaas gaan al ons trane afgedroog woord – vir oulaas!!! Vir ons wat sy kinders is, hou hierdie tweede koms geen verskrikking in nie, want dit gaan een en dieselfde Regter wees wat ook ons Verlosser was, en wat ons lewe lank wat daagliks vir ons intree.

Ons word soms daarvan beskuldig dat ons as kerkmense nie genoeg uitsien na die wederkoms nie. Dis seker ook nie vreemd nie. Want ons kan eenvoudig geen benul hê van die “blydskap en heerlikheid” wat daar vir ons wag nie!