24 Augustus 2018
Sondagaand 26 Augustus is ‘n baie belangrike datum op die 2018-kalender van ons kerkkoor. Die jaarlikse Kerkkoorfees vind dan om 18:00 plaas by Kuilsrivier Moedergemeente – hierdie jaar lekker naby aan ons! Die koor geniet hierdie geleentheid baie en dit sal heerlik wees as ons gemeentelede ons kom ondersteun.
Ons is ook hard aan die oefen vir die Dis Tyd om Te Sing-geleentheid in die Kaapse Stadsaal op 8 September. Daar gaan ons koor deel uitmaak van ‘n massakoor van ±450 lede. Die massakoor word begelei deur die Kaapse Filharmoniese Orkes, ‘n kontemporêre orkes en die stadsaal se pyporrel. Dit beloof om ‘n grootse geleentheid te wees. Die Here was vir ons goed om ‘n borg te verskaf vir ‘n bus vir die koor. ‘n Kleiner bussie was onmiddellik volbespreek vir gemeentelede en vriende van die koor wat ook die geleentheid gaan bywoon.
As u eie vervoer kan reël en die geleentheid wil bywoon: die besprekingsinligting verskyn op die aankondigings. (Daar is veilige parkering op die Parade). Doén dit, dit is regtig in ons land Tyd om te Sing.
Nico Ras (oud-koorlid) was onmiddellik gereed om van sy pragtige foto’s van die koor te kom neem wat ook op Bybelmedia se webblad gaan verskyn.
Volg hierdie skakel: https://www.dropbox.com/sh/7m7am73l0in5yq5/AABh4n2WQTpHcUXlH4XYBC94a?dl=0