29 Augustus 2019

  1. Die een kommissie wat regtig die kerkraad oortuig het dat daar vir ons moeilike besluite voorlê rondom ons geboue, is die Eiendomskommissie. Verskeie aspekte van ons kerkkomplek vra baie ernstig aandag – en ons praat nie nou van klein bedraggies nie. Die waterdigting van veral die area tussen die saal en die kerk is al ‘n probleem van nog voor ek hier gekom het, en word by amper elke kerkraadsvergadering bespreek. Daarby is ons baie bekommerd oor die integriteit van die struktuur van die kerktoring. In beide van hierdie gevalle beloop kwotasies vir herstelwerk honderde duisende Rande, waarvoor nie begroot is nie. Ons sal dit egter nie baie lank kan ignoreer nie. Daar sal baie ernstige gesprekke oor gevoer moet word…

 

  1. Nog ‘n aspek wat ernstig frustreer, is die parkeerarea aan Langenhovenstraat se kant. Tussen die droogte en die duinemolle is daar nie veel van die terrein oor nie – maar daar is eenvoudig nie tans geld beskikbaar om dit ook te plavei nie.

 

  1. Ook die sekuriteit van ons kompleks het aandag gekry, nadat ‘n kar onlangs net voor die aanvang van kerktyd op ons perseel gesteel is. Voorlopig gaan ons sekuriteitswagte ontplooi tydens eredienste, met die hulp van die mense wat op die oomblik ons alarm monitor.

 

  1. Die Komissie vir Erediens en Aanbidding is baie opgewonde oor die reëlings rondom ons Kerssangdiens (meer hieroor later) en oor ons nuwe Senior Eredienswerkerspan!

 

  1. Die nood by ons skole is hoog, en daarom het die kerkraad besluit om met die laaste Dankbaarheidsondag van elke kwartaal (of soos ons dit kan inpas) die kosmandjies spesifiek te gebruik om kos deur die skole se maatskaplike werkers te versprei. Ons sal julle weer daaraan herinner: daardie Sondag se kosinsameling sal nie meer vir die gemeentelike koskas gaan nie, maar vir honger kinders by die skool. Jou kans om ‘n verskil te maak!

 

  1. Die Fondsekommissie is gelukkig daaroor dat ons inkomste die afgelope tydperk bokant begrote syfers is, en oor die oordeelkundige bestuur van fondse deur almal betrokke. Baie dankie!

 

  1. Ds Francois Cillié, wat vir ons van onskatbare waarde was om die kommunikasie in De Eike op ‘n gesonder basis te kry, het aan daardie kommissie onttrek en gooi tans sy gewig by die DVK in. Baie dankie, ds Francois, dat jy jou gawes so in diens van die Here en sy gemeente bly stel!

 

  1. Ons koster het die afgelope week verjaar, en is nou ouer as die perk tot waar werknemers permanente kontrakte in De Eike kan kry. Sy kontrak is egter alreeds vir die volgende 12 maande verlang. Dankie Tim, vir al jou harde werk!

 

  1. Die kerkkantoor sal tydens die Septembervakansie gesluit wees omdat dit uitgeverf moet word. Mariana sal egter vir noodgevalle beskikbaar wees.