14 September 2017
Die kerkraad is baie bekommerd oor ‘n groot aantal van ons lidmate wat nie huidig bereik word in ons wyke nie – onder andere omdat daar soveel wyke vakant is. ‘n Taakspan gaan die hele saak van naderby bekyk en na oplossings soek.
Daar is ook gesels oor die klankstelsel van die kerk, wat ons almal erg frustreer. Dis moelik genoeg om vir ‘n uur lank aandag te gee, sonder dat die klank nog kort-kort verdwyn ook! Ongelukkig is dit maar ‘n durerige probleem om aan te spreek, maar ons is nou op die punt waar ons nie eintlik meer ‘n keuse het nie. Daar gaan binnekort iets aan gedoen word!
Die kerkraad is opgewonde daaroor dat ons leraars die gawes wat die Here vir hulle gegee het, graag in sy diens wil gebruik deur te spesialiseer. Daarvan is die e-nuusbrief ‘n goeie voorbeeld. Johan se seniorklub is nog een, en daar is dinge aan die gebeur by die aanddiens, waar Jandré se fokus val. Chris neem verantwoordelikheid vir o.a. die Alpha-kursus (waarvan julle volgende jaar nog sommer baie gaan hoor!) en huweliks- en gesinsverryking.
Die kerkraad is baie dankbaar vir mense wat hulle energie en tyd in diens van die Koninkryk stel op baie areas in De Eike (te veel om op te noem!) en so bydra tot die groei en gladde verloop van die gemeente. Ons sien dit raak en waardeer dit!
Natuurlik was dit nie al waaroor ons gesels het nie, maar dis vir seker die interessantste van die sake wat op ons agenda was!