5 Maart 2021
Hierdie is die verslag van die Uitvoerende Kommissie net soos dit op 1 Maart voor die kerkraad gedien het:
Ons gemeente het in 2003 ‘n kontrak gesluit met Cell C vir spasie op ons torings vir die oprigting van selfoonsenders.
Cell C het later die administrasie van al hul torings landswyd oorgedra aan American Tower Corporation (ATC) en alle kontrakte met “landlords” is aan ATC sedeer.
Met die verstryking van hierdie kontrak, is ‘n nuwe kontrak tussen ons (landlord) en ATC gesluit vir ‘n verdere periode van 10 jaar. ATC huur dus die spasie by ons en betaal huur aan ons. Hulle “onderverhuur “ dan weer aan Cell C. Die huidige kontrak tussen ons en ATC verval op 31 Augustus 2025.
Oor die tyd is ons deur verskeie ander diensverskaffers genader om ook toerusting op die torings te plaas, maar vanweë kommer oor die toestand van die torings is dit van die hand gewys.
André van Heerden van ATC het ons ook gekontak met die versoek om ‘n ondersoek te loods na die moontlike plasing van RAIN 5G se toerusting op die torings. Dit was egter buite die kwessie, gegewe die huidige toestand van die torings.
André het die moontlikheid genoem dat hy ‘n voorlegging aan sy hoofkantoor kan doen dat hulle ons help om die torings te vervang. Die “nuwe torings” sou dan sterk genoeg wees vir meer as een diensverskaffer se toerusting, wat ekstra inkomste vir hulle en vir ons sou beteken. Die moontlikheid is intussen in diepte ondersoek.
‘n Ondersoek deur strukturele ingenieurs het bevind dat die torings gesloop sal moet word.
ATC se voorstel behels dat die torings op hulle onkoste afgebreek word en vervang word met nuwe torings wat presies dieselfde lyk. Dit hou die voordeel in dat daar nie nuwe bouplanne ingedien hoef te word vir ‘n veranderde struktuur nie. Die goedkeuring van bouplanne sluit omgewingsimpakstudies in, en die proses kan maklik tot 2 jaar duur om afgehandel te word. Nuwe bouwerk sou eers kon begin nadat goedkeuring verkry is. Teen daardie tyd het protensiële huurders van spasie op ons torings dalk al elders reggekom en dan verloor ons en ATC die inkomste.
Die huidige hoogte van die torings is ook ‘n belangrike faktor, aangesien hoër senders ‘n groter reikwydte het. Dit dra by om ons perseel aanloklik te maak vir ATC en hulle kliënte.
In ruil daarvoor dat ATC die volle koste van die afbreek en herbou van die torings dra (wat op sowat R2,8 miljoen geskat word), offer ons die huurinkomste vir ‘n tydperk van 18 jaar op.
Hierdie termyn sou kon verkort wanneer nog senders op die nuwe torings geakkommodeer kan word, of ons sou kon vra dat die ekstra huurinkomste maandeliks / jaarliks aan ons uitbetaal word, wat weer ons kontantvloei ‘n hupstoot sal gee.
Goedkeuring word dus hiermee verlang dat toestemming gegee word aan ATC vir die skuif van die Cell C se toerusting na ‘n tydelike struktuur, afbreek van torings en bou van die nuwe torings waarna die toerusting weer op die torings geplaas sal word.
Dit alles is onderhewig aan die ondertekening van die toepaslike kotrakte tussen onsself en ATC vir dié werk.
Die Vergadering het die verslag in sy geheel goedgekeur en aan die UK opdrag gegee om voort te gaan met opstel van die kontrak saam met die regspan van ATC en ons eie regsmense, sodat werk verkieslik voor die reënseisoen al kan begin.