11 September 2020
So wat is die mees geliefde kerklied in die onderskeie Afrikaanssprekende gemeentes in Suid-Afrika? Ek het self oor hierdie vraag nagedink toe ek in ‘n populêre artikel lees dat die BBC elke vyf jaar of so hul luisteraars vra om een gunsteling kerklied te kies uit ‘n steekproef van meer as 150 kerkliedere. Op Oujaarsaand van daardie jaar is daar dan ‘n konsert in die Royal Albert Hall waar dié ‘Top 10’ kerkliedere met soliste, koor, orrel en orkes uitgevoer word.
Met die goedgunstige ondersteuning van SAKOV (Die Suider-Afrikaanse Kerk- en Konsert-orreliste Vereniging), het ek besluit om hierdie navorsingsprojek aan te pak om sodoende te probeer vasstel wat is ons Afrikaanssprekende gemeentes se gunsteling kerklied.
Hoekom stuur ek hierdie epos aan jóú? Ek wil vriendelik versoek of jy nie ook jou stem wil laat geld deur vir jóú gunsteling kerklied te stem nie. Aan die einde van hierdie epos sal jy meer inligting kry oor hoe om jóú stem uit te bring.
Hoe is die steekproef van kerkliedere in die vraelys bepaal? As jy net al die ‘amptelike’ kerkliedere (m.a.w. liedere uit die Liedboek van die Kerk, Psalmboek, FLAM en VONKK) wat moontlik in gemeentes gesing kan word bymekaar tel, praat ons van oor die 1 590 liedere. Dit is onmoontlik om ‘n keuse uit so ‘n groot populasie te maak. Sedert Mei 2020 het ek dus deur middel van die Delphi-metode en ‘n paneel kundiges ‘n konsensus steekproef van 75 kerkliedere saamgestel.
Die steekproef van kerkliedere in die vraelys sluit liedere oor die hele spektrum van die ALGEMENE Kerkjaar in en vir die doeleindes van hierdie navorsing is ons weliswaar op soek na die ‘algemene’ kerklied. Dit beteken dat spesifieke Kers- en Paasliedere nie in die keuses opgeneem is nie.
Wat gaan met die resultate van die navorsingsprojek gebeur? Dit is eerstens ‘n akademiese studie en derhalwe gaan ek ‘n navorsingsartikel uit die resultate probeer publiseer. Tweedens beoog ek ook om die resultate by van die SAKOV-byeenkomste in die toekoms met lede te deel.
Wat staan jou nou te doen? Kliek asb. op hierdie skakel en voltooi die etiese klaring en vraelys. Die afsnydatum is Maandag 21 September 2020. Indien jy NIE deel van die navorsing wil wees nie vra ek jou nogtans groot asseblief om steeds op die skakel te kliek en net jou keuse as sodanig aan te dui. As navorser is dit vir my belangrik dat alle response, hetsy positief of negatief, in die databasis opgeneem word vir redes van geldigheid en betroubaarheid.
Hoe lank behoort dit jou te neem om hierdie vraelys te voltooi? Dit sal jou so tussen 5 – 10 minute neem om hierdie vraelys te voltooi. Ek wil ook graag voorstel dat jy die vraelys in een ‘sitting’ voltooi. Dit was duidelik uit vorige terugvoer vanaf die paneel kundiges dat ESKOM ons nie altyd in ag neem as ons van ons gunsteling kerkliedere moet kies nie!
Indien jy ook die kontak details van ander kollegas, gemeentelede, vriende en/of familie het wat ook moontlik die vraelys sou wou invul, versoek ek jou vriendelik om sommer hierdie epos met al die inligting aan hulle te stuur.
Vertroulikheid sal deurgaans gehandhaaf word aangesien die data anoniem en elektronies ontleed sal word.
Indien jy enige verdere vrae het of iets oor die navorsing wil bespreek, is jy baie welkom om my by 083 630 2714 óf gideonels@gmail.com óf gideone@uj.ac.za te kontak.
By voorbaat baie dankie vir jou tyd en belangstelling!
Groete
PROF GIDEON ELS
Redakteur: Vir die Musiekleier
2020-09-08
www.uj.ac.za/cbe
Prof Gideon Els
PG Dip. Educ., D.Com (RAU) | D.Com (UJ)
Associate professor
Department of Accountancy
School of Accounting
College of Business and Economics (CBE)
Tel +27 11 559 7560
Office: C Ring 732 | APK