15 Maart 2018

Ek was so bly toe Ds Hannes ons by die Bybelstudie vir Seniors verlede jaar meegedeel het dat hy besig is om vir ons ‘n studie vanuit die Psalms voor te berei.  En sommer dadelik het daar terugflitse in my gedagtes oor die inhoud daarvan opgekom.

Dit het amper gevoel soos dit in Psalm 122 van die 1933/1953 Afrikaanse Bybel staan:

[1] ‘n Bedevaartslied. Van Dawid. Ek was bly toe hulle vir my gesê het: Laat ons na die huis van die HERE gaan! [2] Ons voete staan in jou poorte, o Jerusalem! [3] Jerusalem wat gebou is soos ‘n stad wat goed saamgevoeg is, [4] waarheen die stamme optrek, die stamme van die HERE — ‘n voorskrif vir Israel! — om die Naam van die HERE te loof. [5] Want daar staan die stoele vir die gereg, die stoele van die huis van Dawid. [6] Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe! [7] Mag daar vrede wees in jou skanse, rus in jou paleise! [8] Ter wille van my broers en my vriende wil ek spreek: Vrede in jou! [9] Ter wille van die huis van die HERE onse God wil ek die goeie vir jou soek.

Hiermee nog enkeles daarvan vanuit die vorige Psalms- en Gesange-boek van die Kerk.

 

Psalm 8:1

Daar is geen land so ver of woes geleë,

geen strand, o Heer, of wilde waterweë,

geen hemelsfeer in die oneindigheid –

of orals blink u Naam en majesteit.

 

Psalm 23:1

Net soos ‘n herder uittrek met sy skape

en hul laat neerlê in die veld van milde groen,

met sagte hand hul lei langs stille waters –

so is die Heer, so het Hy ook aan my gedoen:

 

Psalm 42:1

Soos ‘n hert in dorre streke

skreeuend dors na die genot

van die helder waterbeke,

skreeu my siel na U, o God!

 

Psalm 84:1

Hoe lieflik is u wonings, Heer

der leërskare! Hoe begeer

my siel en hunker van verlange

om na Gods woning op te gaan

en in u tempelpoort te staan

met jubelende lofgesange.

 

 

 

Psalm 25:2

Leer my, Heer, u regte weë,

wys die regte pad my aan;

maak my hart daartoe geneë,

om met lus daarop te gaan.

 

Psalm 33:1

Sing vrolik, hef die stem na bowe;

regverdiges, verhef die Heer!

Dit pas opregtes God te lowe

en uit te jubel tot sy eer.

 

Psalm 48:1

Die Heer is groot waar Sions top

hom wentel uit die dieptes op.

Hy is lofwaardig, waar verhewe

die berg en stad in songlans bewe,

en Sion teen die noorde

blink, bó die lof van woorde.

Daar waar in vlekkelose wit

die Koning van die wêreld sit,

het Hy, wat teen die vyand waak,

as rotsburg Hom bekend gemaak.

 

Psalm 91:1

Wie toevlug neem in veil’ge hut

en skuil by die Alhoë,

hy word beskadu en beskut

deur God se alvermoë.

 

Psalm 100:1

Juig, al wat leef, juig voor die Heer!

Dien God met blydskap, gee Hom eer;

kom nader voor sy aangesig,

en prys Hom met ‘n lofgedig!

 

Psalm 130:1

Uit dieptes, gans verlore,

van redding ver vandaan,

waar hoop se laaste spore

in wanhoop my vergaan:

Psalm 146:1

Prys die Heer met blye galme,

o my siel, daar’s ryke stof!

‘k Sal, solank ek leef, my psalme

vrolik toewy aan sy lof

en Hom, wat sy guns my bied,

altyd groot maak in my lied.

 

Psalm 147:1

Laat voor die Heer ‘n lofsang rys!

Hoe goed is dit om God te prys!

Coen de Milander

Maart 2018