13 November 2020

Hallo liewe gemeente

Ek het nog iets op my hart rondom die satelliethuis van die Durbanville Kinderhuis, Huis LILI.

Die kinders se verblyf staan nou einde se kant toe by die kinderhuis, omdat hulle 18 jaar oud is, en klaarmaak met skool.  Die paar kinders wat gekeur is vir beurse om te studeer by Northlink, het ‘n goeie vooruitsig, met sakgeld as deel van hulle beurs, waarmee hulle kostes kan betaal.  Enetjie mag aanbly in LILI, en die ander gaan by familie of voorheen pleegouers tuisgaan vir die studietydperk.

Ek het egter ‘n groot kommer in my hart oor twee van ons kinders wat nie gekeur is vir beurse nie, en wat nou met hulle graad 9 kwalifikasie moet werk soek, en by familie gaan woon waar hulle in die eerste plek weggevat is toe hulle klein was.  Die omstandighede, soos dronkenskap, dwelmmisbruik en bendebedrywighede daar het nie verander nie, en die kinders is in angs en bewing oor die vooruitsig.

Ek het te hore gekom van ‘n studieprogram wat gratis aangebied word deur die Roomse kerk, en ek is in kontak met hulle.  Ek sal vir hulle kan vervoergeld organiseer vir die kursus, maar blyplek is ‘n groot kopseer.  Die kinders sal in die week besig wees met die kursus/internskappe, en naweke vir hulle ‘n naweekwerk kan bekom vir ‘n sakgeldjie.

Ek wonder sommer of daar enige gemeentelid is wat weet van iemand wat vir so ‘n kind kan blyplek gee vir 6 maande tot ‘n jaar, ten minste net ‘n dak oor haar kop.  Kosgeld sal ek vir haar kan organiseer.  Een van ons Jeugkommissielede het die idee geopper dat daar dalk iewers ‘n eensame senior burger nog in haar eie huis woon, wat geselskap sal waardeer, en ook oor naweke en saans dalk gehelp kan word met huis skoonmaak en wasgoed/skottelgoed was.  Of dalk tuinwerk?  In die proses het sy ‘n DIERBARE aangenome kleindogter.

Die kinders is permanent in my gebede, en ek bid vir uitkoms.  Maar as ek nie vra nie, gaan ek nie weet of daar iewers hulp vandaan kan kom nie.  Hulle moet reeds op 25 November die kinderhuis verlaat.

Hulle is regtig uitgelewer aan die wrede buitewêreld, en het nie die ondersteuning wat ons as ouers vir ons kinders gee nie.

Ek hoor graag van u.

Groete

Riëtta Odendal

0829040950

r.odendal@mweb.co.za