9 Julie 2020

Na al die navrae wat ons in die afgelope week na Johan se preek Sondag oor die Kinderhuis Satelliethuis gekry het, hier is die inligting daaroor:

Die huis se naam is LILI-huis, en dis ‘n akroniem vir “Leaping Into Life Independently”.  In daardie huis woon slegs skoolverlaters, en poog hulle om die kinders voor te berei vir die lewe daarbuite volgende jaar. Die behoeftes van hierdie groepie kinders het onder Riëtta se aandag gekom, en sy het dadelik ingegryp en betrokke begin raak. Eers deur ‘n kerngroep vriendinne en kennisse te identifiseer vir wie sy om donasies genader het, en ter selfder tyd het sy ook op faceboek in die algemeen gevra.  En sy is heerlik verras!

Een van Lize (jy kan meer oor Lize se betrokkenheid hier lees in die getuienis wat sy self vertel oor haar Jabes-verhaal) se onmiddellike behoefte was om vir die 10 mense (syself ingesluit) kos te maak en ter selfder tyd ook haar praktyk te kan bedryf, wat sy nie sonder data kan doen nie.  Sy het gesukkel met ‘n ou gasstoof waarvan net een plaat werk, en wat baie onveilig is.  Riëtta sê: Vir my wat al 32 jaar huishou, sal dit moeilik wees om vir 10 mense kos te maak, wat nog op een stoofplaat.  Sy kon net nie toesien hoe die persoon wat al vir jare haar regterhand by die kinderkerk is (maar ook soos ‘n dogter is) so sukkel nie. Nog ‘n groot probleem was dat sy die hele tyd haar eie data moes gebruik (daar is nou nog nie die beloofde wifi aangebring nie), en so kon sy bv nie die Teams vergadering van die Jeugkommissie bywoon nie – dit vat te veel data. Om dieselfde rede was dit ook vir die kinders onmoontlik om hul take te doen, agv te min data.  Hulle beskik ook net oor een rekenaar.

1

Met haar eerste rondte fondsinsameling het Riëtta R4350 ingekry, waarmee sy veral kombuistoerusting soos bakke met deksels, opskeplepels, ‘n kookboek, eierspaan, en skerp skilmesse (‘n groot behoefte) gekoop het –  en natuurlik ook twee keer data gekoop. Iemand het ‘n tweeplaatstofie/oond kombinasie gegee waarop Lize nou fluks kook.  Sy gebruik ook die oond, en Riëtta kon haar leer hoe om onder andere rys in die mikrogolf te maak – blykbaar eet die kinders baie rys. Sy het ook vir Lize ‘n klomp resepte deurgegee om makliker groot maat kos mee te maak.

Lize kon ook intussen ‘n kontrak met ‘n selfoonmaatskappy, waarmee sy nou haar “dongle” kan laai met data.  So daardie probleem is ook opgelos! Een van die seuns het vir Lize gevra vir ‘n ou selfoon.  Hy het ‘n simcard, maar leen ander kinders se fone so nou en dan.  ‘n Vriendin het ‘n foon gebring en sakke vol klere vir die kinders.  Sy het ook nog ‘n ekstra bedlamp gebring.

2

Met die tweede rondte het Lize vir my ‘n lysie gegee van behoeftes, naamlik:

Asdrommetjies x 5 vir die slaapkamers – ‘n Vriendin het 5 nuwes gekoop by die plastiekwinkel.

Kosblikke x 8 vir skool – Dieselfde vriendin het dit voorsien.

Bedlampies x 5 vir die kamers – 3 is by die kinderhuis gekry, en die ander is deur ‘n vriendin voorsien.

‘n Toaster – ‘n Skoolmaat van my het dit op fb gesien, en voorsien.

Bordspeletjies – Een van ons gemeentelede het 4 speletjies egee.

Geheuestokkies x 8 – ‘n Vriendin het 10 bestel en Vrydag gaan aflewer, saam met ‘n klomp “tienersnacks” soos sy dit noem.  Sy gaan dit ook nou een keer ‘n maand doen.

Asdromme x 2 – ‘n Vriendin van die Strand het gestuur.

Wasgoedrakkies vir nat wasgoed – Ek gaan dit aankoop met ons geld.

Kontant – ‘n Kliënt het my behoeftes op facebook gesien, en vir ons R5000 inbetaal.  Hy sê hulle gaan elke jaar op Hemelvaartdag na ‘n erdienstelike instansie toe, en doen ook onerhoudswerkies, en braai met die  mense ens.  Hulle neem dan verlof vir die dag.  Hy wil dalk volgende jaar DV na die satelliethuis gaan.

Iemand wat baie handig is met houtwerk, het aangebied dat ek en hy een dag deurry (hy is nog nie volstoom aan die werk nie) sodat hy kan sien watter onderhoudwerk aan Lize se deur en nog vensterrame ens gedoen moet word.  Die een vensterraam is toegekap met “hardboard”.  Die onderhoudspan van die kinderhuis skitter in hul afwesigheid. Hy gaan dan die nodige aankope en herstelwerk doen.

3

Rondte 3 – Lize wil graag ‘n tafel uit die garage na die huis toe dra sodat die kinders rondom ‘n tafel kan eet.  Daar is spasie.  Op hierdie stadium eet hulle in die sitkamer op hul skote.  Daar is ook stoele vir die tafel. Ek het onderneem om vir haar ‘n mooi plastiek tafeldoek te koop wat net kan afgevee word.  Dalk ook nog ‘n tafel as daardie tafel nie groot genoeg is nie.  Ek het ook gedink dis ‘n goeie idee, want as ek in ons huis kyk, dan moedig om die tafel eet lekker gesels aan.

Op die oomblik oorweeg Lize om Alpha aan te bied vir die kinders.

Riëtta