30 November 2018

So breek die laaste uitstappie vir 2018 aan. Almal is betyds vir die bus en toe ds Johan die name een vir een uitroep, kon jy die gemoedelike atmosfeer duidelik waarneem. Na ‘n gebed deur ds Johan val ons in die pad in die rigting van die N2. Ons ry verby woongebiede wat my weer laat besef hoe bevoorreg ek is om te kan woon waar ek woon. Soos gewoonlik is ds Johan die perfekte toergids met sy spitsvondige kwinkslae. Met die blou see net sigbaar, wys hy hierdie baken aan die oud-Vrystaters uit net ingeval hulle dit nie herken nie. By die Waterfront aangekom, moes Kallie wat die ete gereël het, die voortou neem, en raai wat, hy weet toe nie waar die Mugg & Bean is nie. Maar uiteindelik het ons toe darem die plek gekry en heerlik geëet.  Na die ete het ‘n klompie van ons langs die see gaan stap – heerlik.

Hierna vertrek ons na die planetarium. Op pad daarheen verkyk ons, ons aan al die veranderinge in die middestad. Riana wys pikswart motors met donker ruite, begelei deur twee verkeersbeamptes op motorfietse, aan my uit en ek wonder wie die BBP’s kan wees? By die planetarium word ons begelei na ‘n ouditorium wat in ‘n wonderwêreld bo jou verander. In gerieflike sitplekke wat teruglê sodat jy na die hemelruim kan kyk vertel ‘n stem jou alles van die sterre en planete en hul ontstaan miljoene der miljoene jare gelede.  Gelukkig was die vertrek donker en notas maak buite die kwessie. Jy kyk en luister in verwondering na ons wonderlike, onbeskryflike skepping deur ‘n magtige hand.

Dankie ds Johan en die komitee. Ons is bevoorreg om só bederf te word. Ons beleef met elke uitstappie so baie in een dag en elke keer baie bekostigbaar.

Elize van Wyk