23 September 2022
Na ‘n afwesigheid van 2 jaar, kon die Kommissie vir Vrouelidmate die afgelope week weereens die gewilde Senior Burgertee aanbied – alhoewel dit ampertjies deur beurtkrag in die wiele gery is! Gelukkig kon ons ‘n kragopwekker leen en die oggend kon voortgaan.
Die gaskunstenaar was Belia Lourens. Die naam Belia beteken “Belofte van God” in Hebreeus. Belia glo dit is haar roeping om te sing en sy leef dit uit met oorgawe. Haar program het iets vir elke smaak ingesluit – van Janita Claassen-treffers tot ligte klassieke musiek. Sy het haar ook nie van stryk laat bring deur die kragopwekker wat nie lekker wou saamwerk nie! Tim was darem byderhand om die krisis af te weer.
Belia Lourens het ‘n stem soos ‘n engel, maar wat my selfs meer beïndruk het, was haar warm, omgee-persoonlikheid.
Nadat ons na Belia geluister het, kon ons gesellig saam kuier oor ‘n koppie tee / koffie en ‘n paar gelukkiges is verras met gelukkige trekking-bederfies. Soos in die verlede, was die eetgoed weer uit die boonste rakke.
Baie dankie aan elkeen wat gehelp het om hierdie jaar se Senior Burgertee ‘n sukses te maak!