21 Oktober 2021

Ek het eendag lank gelede my oor op die grond gehou en besluit toe onlangs om hierdie verhaal my eie te maak. Met my verouderde geheue moes ek maar min of meer probeer om die verhaal oor te vertel met my eie prentjie in my kop. Ander name en plekke natuurlik.

Waarom het die verhaal my nooit regtig verlaat nie? Besluit maar self.

DIE SKAAPDIEF

So trek Kerneels en vroutjie Sannie na die Karoo, waar hulle ‘n plasie koop om daar af te tree. Dit was nog altyd Kerneels Bruwer, wat vir vyf en veertig jaar in die stad gewerk het, se droom om op die platteland af te tree en ‘n boerdery te begin. Die Bruwers se koppe het maar altyd Prins Albert se kant toe gestaan; dus het hy in die jare sestigs die plaas Mooi Berge, oppad na die Swartberge, gekoop.

Sannie was nog altyd baie lief om beskuit te bak, blomme te rangskik, naaldwerk te doen en sommer net by die gemeenskap betrokke te wees. Hulle was maar al die jare betrokke by die gemeenskap en vernaamlik die kerk. Kerneels se hande het vir niks verkeerd gestaan nie; dus was hy maar oral ingespan. Of dit nou die herstel van die haan op die kerktoring was, of die herstel van die kerkklok, niks was vir Kerneels moeite nie en soos gesê het sy hande vir niks verkeerd gestaan nie.

Behalwe sy hande arbeid was hy dan ook oor die jare heen diaken, ouderling, sendeling,

fondsinsamelaar en het hy ook, soos vroutjie, vir jare lank sondagskool gegee. Hy het altyd geskerts dat hy ‘n spaar dominee is in sy gemeente. Een kenmerk van hom was dat hy die heeldag loop en fluit het. Vals, hoor jy vir my, maar ophou fluit het hy nooit nie. Selfs by kerkdienste fluit-fluit die gang afgestap gekom. Sy plekkie in die kerk was geboek en niemand sou dit waag om daar te gaan sit nie. Amper soos die jare in die Strooidak en Toringkerk in Paarl, toe die voormense ‘n jaarlikse fooi betaal het vir hul bespreekte sitplek. My oupa Japie was een van hulle. Kerneels was ‘n regte grapjas, maar ook ‘n diep gelowige Christen.

By Prins Albert het Kerneels en vroutjie Sannie ook stelselmatig betrokke geraak by die dorp en plaas gemeenskap. Soos by sy vorige gemeenskap is hy dan toe ook ingelyf by omtrent al wat komitee is. Natuurlik ook as wyksouderling. En sy gefluit het natuurlik dadelik aanklank gevind in die gemeenskap. Soveel so dat hy gou bekend geword het as Fluit-Kerneels. Dit is mos maar ‘n ding op die platteland . As daar twee Maries is sal hul mans se name aan hul name gekoppel word om hulle te onderskei. Soos byvoorbeeld Marie-Koos of Marie-Rudi. Toevallig was daar ‘n paar Kerneelse in die omgewing, wat hom toe Fluit-Kerneels gedoop het.

Kerneels het nou nie juis een van hierdie groot skaapplase gekoop nie, nee, hy het maar net so ‘n sestig stuk skaap gehad op die plaas, en dan ‘n paar koeie, varke, hoenders, ensovoorts. Dit het Fluit-Kerneels in staat gestel om beter beheer oor sy skape te hê. Om nie die veld oor te bewei nie het hy die skape elke drie maande na ‘n ander kamp verskuif.

So kom Fluit-Kerneels se skaapwagter eendag na hom toe met die nuus dat vyf van sy skape vermis word. Met verdere ondersoek kon hulle geen teken kry van skaapvel of beendere nie. Fluit-Kerneels se skaapwagter, Jan, het hom verseker dat dit nooit gebeur het terwyl dit aan die vorige eienaar behoort het nie; dus was dit baie vreemd dat dit nou juis met hom gebeur.

Soos boere maar ondermekaar praat het Fluit-Kerneels toe laat val dat van sy skape weg is. Nou ja, soos Fluit-Kerneels maar is, het hy nie die klagte gaan lê by die polisie nie. Nee, hy wou nie slapende honde wakker maak nie, maar besluit toe om self ondersoek in te stel. Soos ‘n gesoute speurder speel hy toe duiwelsadvokaat en laat die diefstal eers afkoel. Omtrent tien dae later besluit hy dit is nou tyd om op die hoogste koppie op sy plaas te gaan sit met sy infrarooi verkyker. Dit is nou ‘n gesofistikeerde verkyker wat in die nag sommer goed kan sien. So het hy vir ‘n hele week waggehou oor sy skaapkraal. Nie eers sy plaaswerkers het daarvan geweet nie. So waar, so waar, betrap hy sy

buurman deur sy verkyker by sy skaapkamp. Op die koop toe was dit een van die diakens in dieselfde kerkraad waarop hy gedien het. Jy kon Fluit-Kerneels met ‘n veertjie omslaan, so verbaas of eintlik geskok was hy. Maar eintlik was hy ook nie regtig geskok nie, want deesdae kan jy niemand meer vertrou nie. Daar loop mos ‘n bekende gesegde wat juis sê jy kan nie eers jou buurman vertrou nie.

Gepraat van imbors, is dit toe juis hier wat Fluit-Kerneels wys wat in hom steek. Sout van die aarde sê ek jou, sout van die aarde. So vra die belangstellende kerkraadslede en  dominee maar die volgende Sondag soos dikwels vir hom of hy al die skaap diefstal by die polisie aangemeld het, met die einste skaapdief buurman wat ook sy nuuskurigheid kom deel.

Sommer daardie selfde dag nog vra hy vir sy buurman of hy nie een middag by hom wil kom kuier nie; dan leer hulle mekaar sommer beter ken. So gesê, so gemaak.

Nadat hulle lekker gekuier het by sy plaashuis, vra hy sy diaken-buurman om saam met hom te ry. Hy ry toe ook reguit na die koppie toe vanwaar hy sy diaken-buurman per verkyker betrap het terwyl hy drie skape op sy bakkie gelaai het. So stap die twee dan nou ook die koppie uit tot heel bo en gaan sit op ‘n klip. Eers neem hy die verkyker en kyk in die rigting van sy skape in die kampie, waarna hy die verkyker vir sy buurman gee om na dieselfde kampie te kyk. (In die stadium moes die buurman seker al benoud en skuldig gevoel het)

Dit is toe dat hy vir sy diaken-buurman sê: “Broer Japie, ek het hier op dieselfde klip gesit en kyk hoe jy van my skape op jou bakkie laai.”

Sy jonger buurman het net daar in trane uitgebars en al snikkend om verskoning gevra. “Broer Japie, ek is maar nog nuut in die omgewing, maar ek Koester geen wrok teen jou nie. Kom ons vat hande, dan bid ons saam”. So is die twee kerkbroers daar weg, arms om die skouers.

Die skape is die volgende dag terugbesorg in broer Fluit-Kerneels se kampie en so het vergifnis en liefde geseëvier. Vir oulaas het die diaken-broer vir broer Fluit-Kerneels gevra of hy net een keer mag terug gaan na die koppie toe.

In stilte het broer Japie toe ‘n kruis daar gaan plant, met die woorde daarop: “VERGIFNIS – GOD IS LIEFDE.”

Tot vandag, na hul albei reeds gesterf het, het geen haan ooit weer gekraai na die verdwyning van Fluit-Kerneels se skape nie en niemand behalwe hierdie twee kerkbroers het ooit geweet wat daardie dag op die “Koppie van Vergifnis” gebeur het nie. Almal bespiegel maar betreffende hierdie kruis en sommige mense gaan selfs na die koppie om te bid tot die Here vir vergifnis.

DIE END