9 Julie 2020

Kosie Steenkamp se skielike afsterwe was ‘n groot skok vir almal wat hom geken het. Sy troosdiens kon uiteraard net deur 50 mense bygewoon word. Dié diens het op Donderdag

2 Julie 2020 in De Eike se kerkgebou plaasgevind. Kosie se kinders het dit goed gedink om die troosdiens te laat “stream” sodat mense letterlik wêreldwyd by die troosdiens kon inskakel. Ten tye van hierdie skrywe het daar reeds ongeveer 1 800 mense deur middel van hierdie skakel aan Kosie se troosdiens deelgehad.

 

Kosie het verkies om begrawe te word. Die teraardebestelling was om 09:30 op Donderdag 2 Julie by die Stellenbosch begraafplaas. Die geleentheid is slegs deur familie bygewoon. Ek het geoordeel om deur middel van hierdie skrywe meer mense die geleentheid te gee om ook iets van hierdie “groet”-geleentheid van Kosie te beleef.

 

Ek het vroeg die oggend by die begraafplaas opgedaag. Dit was ‘n buitengewone mooi wintersoggend. Die wêreld by die begraafplaas was nat gedou, die baie bome het verskillende skakeringe van groen in die oggendson vertoon en die vele voëltjie-geluide het die idilliese prentjie voltooi. By die graf het die draers, met Kosie se twee seuns Piet en de Bruyn, vooraan, die kis vanaf die lykswa tot by die graf gedra terwyl die familie agterna gestap het. Nadat ek die geloofsbelydenis en die begrafnisformulier gelees en ‘n gebed gedoen het, is die kleinkinders die geleentheid gegee om iets te sê.

 

Die “toesprakies” wat die kleinkinders gedoen het, was aandoenlik – ekself sal dit my lewe lank onthou. Die spreekwoord sê mos “uit die mond van die suigeling hoor jy die waarheid”. Ons het gehoor hoe Kosie se kleinkinders hul oupa beleef en ervaar het, wat hulle van hom sal onthou en saam die toekoms sal inneem. Wat my bybly is woorde soos “Oupa was altyd net lief vir my”, “Oupa het altyd aandag aan ons almal gegee”, “Oupa het nie ‘n gunsteling kleinkind gehad nie, hy was vir ons almal ewe lief!” en “ons sal Oupa altyd onthou as iemand wat in sy kleinkinders ”invest” het”. Ek het, self maar bewoë, gedink ek wens elke ouer of grootouer kon hierdie woorde hoor! ‘n Mooier, beter getuienis kan ek my beswaarlik voorstel.

 

Ten laaste het die familie die geleentheid gekry om iets op die kis te plaas. Die kleinkinders was eerste aan die beurt. Elkeen het ‘n handvol wol op die kis geplaas, wol van die Dorpers van Groenland waarvoor Kosie so lief was! Helene, die kinders en die kleinkinders het Kosie se hoed, fynbos, blomme en ruikers op die kis geplaas. Kosie se broer, Hennie het nader gekom en ‘n Karoo-bossie soos hy uit die grond getrek is – blommetjies en wortels steeds aan – op die kis geplaas. Die bossie was van Ekkraal, Kosie se plaas in die Karoo! Nadat ds. Francois Cillié ‘n slotgebed gedoen het, het die familie die graf begin verlaat. Met die terugstap na my motor het ek besef hierdie geleentheid het waarskynlik met die afsluitingsproses gehelp, maar dit beteken nie ons sal nie nog baie lank na hierdie geliefde lidmaat verlang nie.

Johan Morkel