23 November 2018

STIL, STIL VERRAS DIE HERE ONS TERWYL ONS NET IN DANKBAARHEID DAAROOR KAN GETUIG

Vanoggend is ek uitgeboul! Ek sit in my studeerkamer en beleef die Here se werke wat ek tans in De Eike sien gebeur. En Filippense 4:4-7 bring my in hierdie gejaagdheid tot stilstand. Hoor net wat sê die Here!

Filippense 4

“4 Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! 5 Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. 6 Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7 En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.“

Een van die geheime van ‘n gelukkige lewe is dankbaarheid. As ek en jy dit kan reg kry om met dankbaarheid te leef, verander dit die wêreld vir ons. Begin ons verby die dinge kyk wat die lewe vir ons moeilik maak en sien ons die seën wat ons het raak. Kyk ons verby die donker wolke en begin ons die silwer randjie raaksien. Dankbaarheid word ‘n werklikheid in ons lewe as ons besef dat alles wat ons het ‘n geskenk van God is. Om te kan glo – ‘n geskenk, om te kan werk – ‘n geskenk, om ‘n familie te hê – ‘n geskenk. So kan ons aangaan en kan jy nog byvoeg. Om ons dankbaarheid lewendig te hou moet ons, onsself voortdurend herinner aan alles wat ons voor dankbaar kan wees.

Dankbaarheid is egter nie net ‘n emosie nie, maar gaan altyd oor tot aksie. Dankbaarheid inspireer my om my geloof uit te leef, om saam met ander gelowiges Sondae God te loof en te dank vir Sy genade, lief te wees vir God se kinders, iets van die baie wat ek ontvang, terug te gee met my tiende, en elke dag met vreugde te leef!

 

Stil, stil kom verras die Here ons deurdat 52% van die tiende maand dankofferkoeverte terug ontvang is en dat amper R60 000-00 meer ontvang is as waarvoor begroot is. Is dit nie wonderlik nie. Is dit nie rede tot dankbaarheid nie! Kom leef saam met ons in die spore van Jesus en sien hoe die Here mense se lewens en harte aanraak met Sy oorvloedige genade. Genade wat soos emmers water oor ons uitgegooi word.