2 November 2017
Vrydag, 27 Oktober 2017 het waarskynlik vir Kuilsrivier-De Eike gemeente die oorsteek van ‘n belangrike grens beteken. Op hierdie dag is ‘n groep mense uitgestuur na Nuwerus om te gaan bedien. Die aanvanklike doel was om te gaan om aan Ds. Chris se belydenisklas te demonstreer hoe ‘n mens met jou normale menswees kan uitreik na ander mense. Soos die tyd aanstap het verdere doelwitte ontwikkel soos om te help om hoop, sorg en liefde te gee deur te konsentreer op die kinders van die gemeenskap, die swaarkry van boere met die droogte met baie vee wat vrek en ook om diegene te gaan besoek by wie De Eike deur middel van die rolstoelprojek alreeds geruime tyd betrokke is. Ons was ook bewus van die een oumatjie wat gevorderde kanker onder lede het by wie ons wou besoek aflê.
Die Here het ons verras en elkeen wat op die uitreikspan was se lewe aangeraak. Jonk en oud oor alle grense het ons siele op die einde van die dag bedien. Elke uitreik-spanlid het as nuwe verrykte mense terug gekom.
Hoe meer ons oor die naweek beleef het, hoe meer het dit duidelik geword dat die Here alreeds lankal met De Eike ‘n pad begin stap het toe ons vir die eerste keer by Nuwerus betrokke geraak het, onder meer met die rolstoelprojek en ook met die gee van ander vorme van hulp en ondersteuning. Ons het ook besef dat die naweek ‘n amptelike waterskeiding was en waar ons werklik op blywende voortgesette manier betrokke geraak het by die klein Hardeveldse gemeenskap. In ‘n sekere sin is dit met ‘n gevoel van opwinding dat ons so ‘n duidelike rigting gekry het van waar om toekomstige uitreik-en getuienisaksies te loods wat terselfdertyd sin en betekenis vir elke De Eike lidmaat gee wat betrokke wil raak by die lewe van ander mense. Op hierdie gebied het daar alreeds aksies en gedagtes ontstaan soos om te help om:
- sweetpakke vir kinders te laat maak,
- boeke, veral geïllustreerde kinderboeke, wat ook konsentreer op Bybelstories – te versamel en te stuur,
- fisiese tyd te gee om te help om vroue in die gemeenskap te bemagtig om kinders sinvol besig te hou en te onderrig, die versameling van droë rantsoene ter verdere ondersteuning van die werk wat Amanda Basson in die plaaslike gemeenskap doen.
Danksy ruim bydraes en oop skenkerharte van De Eike kon die uitreikspan ook met gawes in die hand op tasbare wyse gaan wys hoeveel De Eike omgee. Daar was byvoorbeeld klere, speelgoed, ou sport toerusting, boeke en 100 geskenkpakke vir die kinders sowel as 10 ton gebalanseerde veevoer wat gratis tot op Nuwerus vervoer was, ter sprake. Die reaksies wat ons waargeneem het sluit onder meer in:
- Van ‘n klein dogtertjie: “Nou het ek vir die eerste keer my eie waslappie”.
- Die boere was na kerk ook net so aangenaam verras toe elkeen 8 sakke gebalanseerde voerpille kon oplaai. Een boer het dadelik een sak pille vir sy skape uitgegooi en volgens hom wou die skape mekaar amper opvreet om by die pille te kom. Hoewel mens nie ver kom met 8 sakke pille nie (Daar was 200 sakke) was dit ‘n teken daarvan dat De Eike werklik omgee en ons wil glo dat die Here daardie pille gerek en vermeerder het soos wat die visse en broodjies langs die Meer van Galilea vermeerder was.