2 November 2017
Wat ‘n wonderlike ervaring was dit nie!! Soos Amanda Basson, suster van Isobel Gresse, ‘n gemeentelid van De Eike gesê het: “Alle eer aan die Here” vir wat gebeur het en wat nog gaan gebeur”.
Vooraf;… vir die mense wat nog nie weet nie wil ons ‘n kykie gee van waar alles begin het. ‘n Paar jaar gelede het ons Getuienisaksie Kommissie bewus geraak van die nood in Nuwerus deurdat Isobel Gresse (‘n Nuwerusser) wat by ons in die gemeente is met die Kommissie in verbinding getree het. Ons gemeente het onder meer deur die “bread tag”-projek van Lisa MacArthur ‘n hele paar rolstoele befonds waarvan 3 na Nuwerus gegaan het. Piet Rootman en van die Getuienisaksie Kommissie se mense het die rolstoele en ander benodigdhede soos klere by vorige geleenthede besorg aan die hulpbehoewendes op die dorpie.
Vroeër vanjaar het Ds. Chris met sy finalejaarsklas die gebruiklike kamp by High Africa gedoen en daar het die gedagte ontstaan om aan die kinders te demonstreer hoe mens met jou normale lewe kan uitereik na ander en op so ‘n eenvoudige manier ‘n verskil te maak. Die gedagte het ontkiem en verder gegroei in Ds. Chris en hy het genoem dat dit wonderlik sal wees om na Nuwerus uit te reik aangesien ons alreeds daar betrokke is deur Isobel en haar suster Amanda Basson wat op Nuwerus woon.
‘n Tyd gelede moes daar gestalte gegee word aan dit wat eens ‘n gedagte was en het dit rugbaar geraak wat die plan is en dit was op die aankondigings geplaas. Op ‘n wonderlike wyse het die Here aan mense se binnekante begin werk en mense het na vore getree en wou betrokke raak. Ds. Chris het homself bevind in ‘n situasie waar hy ‘n idee uitgespreek het en op spontane wyse het mense inisiatief geneem en ingeskakel en in die proses engele geword wat die Here se werk tot uitvoering gebring het. Sonder om name te noem het dinge gebeur soos:
- Vervoerreëlings na Nuwerus is getref om mense, skenkings en pakkies en ook uiteindelik veevoer van 10 ton gratis te vervoer.
- Gemeentelede het bygedra om allerhande skenkings beskikbaar te maak van klere tot boeke en sporttoerusting soos krieketkolwe, veevoer, geskenkboksies wat baie kinders se harte verbly het. Dit was veral aandoenlik toe ‘n klein dogtertjie haar geskenkdosie oopmaak en sy spontaan so opgewonde uitgeroep het dat sy so bly is dat sy vir die eerste keer haar eie kleurvolle waslappie het. Sulke dinge wat ons gesien en gehoor het, het die uitreikspan laat klein voel by die besef dat ons elke dag soveel het om voor dankbaar te wees en eintlik meestal alle gawes en seëninge wat na ons kant toe kom as vanselfsprekend ervaar.
- Verblyfreëlings was getref vir almal wat betrokke was en almal moes ook eet. Ook op die gebied het vele hande gehelp en skenkings het ingekom om ook daarin te voorsien.
- Mense het hulle voertuie beskikbaar gemaak om al die karweiwerk te behartig.
Ds. Chris was die gom wat die hele projek gestalte gegee het en alle stukkies bymekaar gehou het. Dit was eers Sondag, 22 Oktober dat alle groeplede voor die preekstoel bymekaar geroep was om die kers aan te steek dat ons kennis geneem het van mekaar. ‘n Hele paar was op daardie stadium nog vreemdelinge vir mekaar en het mekaar maar net geken van sien in die kerk. Tydens die naweek op Nuwerus is daar egter nuwe diepliggende vriendskappe gesmee en nooit meer sal ons na mekaar kan kyk sonder om te weet dat ons ‘n baie spesiale naweek met mekaar gedeel het waarin ons omgee vir mekaar en Jesus se liefde so tasbaar gesien en ervaar het nie.
Ons De Eike span het maar effens onseker gevoel oor wat om te verwag en wat om presies te gaan doen daar. Weer eens het die Here gesorg met Ds. Chris wat so in breë trekke naastenby ‘n program aan ons deurgegee het. Die program was egter haarfyn ingeklee en uitgewerk deur Isobel en Amanda op Nuwerus. Daar was nie ‘n oomblik van stilsit nie en ons was besig vandat ons daar gekom het totdat ons vertrek het. Ons aktiwiteite het in chronologiese volgorde die volgende ingesluit:
- Vertrek so net na 12:00 Vrydagmiddag, 27 Oktober vanaf De Eike waar ons ander leraars en heelwat gemeentelede ons uitgestuur het. Ons het dus as afgevaardigdes van De Eike vertrek na Nuwerus. Ons het almal voorspoedig gereis. Een van die voertuie moes nog ‘n draai ry om ‘n sak voer wat te min gelaai was te gaan oplaai.
- Met die aankoms in Nuwerus is verblyfplekke aangewys. As ‘n oud Nuwerusser van 47 jaar gelede het ons in die ou polisiekompleks gewoon waar my pa stasiebevelvoerder was. Die weersiens en deurstap deur die gebouekompleks waar Otto en Amanda Basson (Isobel se suster) vandag woon was uit die aard van die saak ‘n baie emosionele ervaring, want dit was asof ek nog my ouers daar kon sien. Hennie en Lizette Rootman het in ons ou huis gebly en in ons sitkamer – wat intussen omskep is as gastekamer, gebly. Die belydenisklas het die voorreg gehad om in die rondgaande hofsaal, aangrensend tot die aanklagkantoor te slaap.
- Aangesien dit baie naby aan skemer was, het aandete kort hierna gevolg. Hennie Rootman, die ewige kind, baie pynlike heup wat binnekort vervang word ten spyt, het egter eers alle jonges bymekaar getrek vir ‘n klipgooi kompetisie. Daar was selfs ‘n wisseltrofee en sjokolade op die spel. Ons is getrakteer op heerlike sop, kerrielamsbredie en brood en daarna roomys en aarbeie as nagereg.
- Saterdagoggend het ons die jaarlikse wyksdankfeesbasaar bygewoon wat ook ‘n heerlike ervaring was. Aan eetgoed het dit nie ontbreek nie. Daar was ook heerlike Namakwalandse vleis te koop, beskikbaar wat netjies verpak was. Indien jy jou vleis varser verkies, kon jy ook bie op lewendige skape, maar ons was ongelukkig te laat vir daardie veiling.
- Die basaar het uiteindelik ontaard in ‘n lekker kuier geleentheid waartydens ons met Nuwerussers kon kuier. Nadat die tafels redelik leeg verkoop was het daar ‘n veiling plaasgevind van alles en wat – wat nog oor was. Die afslaer was later so bietjie moeg en het sommer vleis opgeveil en op die koop toe ‘n aalwyn vir die voornemende koper gegee. Na die veiling het ons aangesit vir die lekkerste bord kos met heerlike sagte vleis en vreeslik baie soorte slaai om van te kies.
- Na ete was daar geen verdere tyd verspil nie. Otto het vir Lissie, ‘n 1919 Model-T Ford, die eerste Ford Everest gaan uithaal. Hy het ons almal vir ‘n lekker plesierrit deur die dorp geneem. Wonderlik om te dink dat die motor op 2 jaar na byna 100 jaar oud is. Vir my was die motor ook baie spesiaal omdat ek as kind op Nuwerus dit kon meemaak toe die motor in sy volle glorie gerestoureer was deur Wyle Oom Tinus de Kock, Amanda en Isobel se pa. Nadat die motor weer padwaardig was, het elke kind in die dorp geleentheid gekry om daarop te ry. My eerste rit in die motor was dus ongeveer 47 of 48 jaar gelede.
- Na die opwinding van die antieke Fordjie het ons na die Rant, soos die woonbuurt bekend staan, vertrek. Die Rant is op die hoë grond op die Noord-Westelike kant van die dorp geleë. Die uitsig vanaf die Rant oor Nuwerus is eintlik baie mooi met die N7 na Namibië wat aan die voet van die Nuwerusberg loop in die verte. Dit maak ‘n baie mooi prentjie vir die fotograaf.
- Amanda wat feitlik daagliks met die mense skakel in die Rant het vooraf gereël dat alle kinders in ‘n gemeenskapsaaltjie bymekaarkom. Met ons aankoms daar was daar nie net kinders nie, maar ook sommige mammas en oupas en oumas. Die opgewondenheid was groot en die effense onsekerheid wat by ons was oor wat om te verwag het baie gou gewyk om plek te maak vir die ervaring van die warmte van hulle verwelkoming aan ons.
- Amanda het die De Eike groep bekend gestel en daarna het Ds. Chris ‘n kort boodskappie gehad waartydens hy die belangrikheid van kinders in die Koningkryk van Jesus beklemtoon het. Hierna het die mammas en oumas spontaan vir ons ‘n lied of twee gesing en toe was dit die kinders se beurt om te sing. Pragtige kinderstemmetjies het opgeklink en alle kinders het so mooi gelyk met net hulle beste klere aangetrek vir hierdie groot gebeurtenis in hulle lewe.
- Ons belydenisklas het hierna geleentheid gekry om aan elke kind ‘n geskenkdosie uit te deel wat ook deur van ons goedhartige ondersteuners geborg is. Die dosies het items bevat soos ‘n tandeborsel, tandepasta, koekie seep toegedraai in ‘n mooi gekleurde waslappie, ‘n Gideonsbybeltjie met die Psalms en Nuwe Testament en ‘n paar klein pakkies lekkers en nog literatuur. Een van die dames in ons groep het dit ook goed gedink om elke dosie met ‘n pragtig gekleurde lint te versier. Dit was te mooi om te sien hoe vinnig die dogtertjies besef het dat hulle die linte kan gebruik om hulle hare mee vas te maak. Soos hierbo alreeds genoem, was dit aandoenlik om te sien hoe een dogterjie so opgewonde was oor haar eerste eie waslappie. Tydens die uitdeel het die kinders, oumas en mammas spontaan begin sing – hoendervleis, knop in die keel en blinkoog oomblikke het gevolg. “Ons het gegaan om te bedien en toe word ons bedien” in Ds. Chris se woorde.
- Na die uitdeel van geskenke en sang het almal na buite beweeg waar die belydenisklas dadelik met die Nuwerus kindertjies begin speel het. Weereens aandoenlik gewees om te sien hoe een dogtertjie nie een van ons kinders in die groep wou laat gaan nie. Twee van die oumatjies was ook teenwoordig in die rolstoele wat De Eike se “Bread tag”-projek gefinansier het. Ons kon sien wat se verskil daardie stoele in hulle lewe gemaak het. Die stoele het hulle byvoorbeeld in staat gestel om die geleentheid en die vreugde mee te maak.
- Hierna het die uitreikdames en Ds. Chris ‘n oumatjie besoek wat kanker het. Sy is maer en uitgeteer omdat sy nie meer kan sluk nie. Ook hier het die Here wonderlik voorsien om ons bewus te maak van die behoefte en kon ons vloeibare voeding in buisies saamneem en vir haar gee. Met Isobel en Amanda se skakeling en kennis van behoeftes was dit lekker om na die gemeenskap te gaan en nie leë hande daar op te daag nie en op tasbare wyse die Here se hande en voete te wees en Sy omgee en Sy liefde uit te dra en te demonstreer. Ook hierdie kontak met die oumatjie in haar warm sinkhuisie het mense se harte ongetwyfeld aangeraak.
- Na ‘n besige dag vol aktiwiteite het ons onttrek en kon ons gaan kyk hoe die WP die Curriebeker wen. Intussen het Otto Basson, Amanda se man, Pieter Gresse (Isobel se man) en Konstant, Otto se skoonseun die vure aangesteek vir die aand se braai. ‘n Heerlike aandete het voorgelê met ‘n Namakwalandse lam, hoender en heerlike wors wat afgerond was met potbrood, roosterkoeke en die allerheerlikste slaaie.
- Terwyl die vleis op die kole was het ek die kans waargeneem om op die seepkiskar van Otto se kleinseun teen die bult af te ry soos 47 jaar gelede. Ook dit het goeie herinneringe opgeroep toe ek en Otto, elk met ons eie seepkiskarre teen mekaar resies gejaag het – in ons kinderjare. Otto se kar met yster ploegwiele het die gewigsvoordeel en momentum gehad om myne elke keer te wen – iets wat ek maar moeilik gesluk het.
- Petrus Theron ‘n man van vele talente, meganies, musikaal en fotograaf en sy vrou, Janine, deel van die uitreikspan, het die kinders laataand eenkant toe geroep om te help om met lig te skryf. Hy en Franci Gresse het toe met hulle kameras die kinders dit laat ervaar om in die lug te skryf met lig deurdat hulle vuurwerke-sterretjies gebruik om oor en oor in die lug te skryf. Elke kind skryf net die spieëlbeeld van een letter terwyl hulle langs mekaar staan en die kamera se sluiter oop is vir ongeveer 20 sekondes. Dit het die mooiste foto’s tot gevolg gehad en die kinders het woorde soos “liefde” en “hoop” met lig opgetower. Dit was mooi en leersaam en elkeen wat dit gesien het sal dit beslis ook onthou.
- Sondagoggend was dit Nagmaaldiens en Ds. Chris het die diens as deel van ‘n kanselruil-diens behartig. Dit was ook besonders om saam met mede-gelowiges van die Hardeveld die Nagmaal te geniet. Ons uitreikspan het aan die einde van die diens na die bediening van die Nagmaal voor in die kerk stelling ingeneem en die Sendinglied gesing. Met die pragtige akoestiek van die kerk van Nuwerus het dit geklink soos ‘n massakoor wat sing en tot my verbasing was daar heelwat trane afgedroog van gemeetelede wat na ons sit en luister het tydens ons optrede. Dit het so goed gevoel om te weet ons moet daar wees. Ek is seker die Here het na ons gekyk en met goedkeuring geglimlag.
- Net voor die kerk verdaag het is die boere wat in die kerk was, gevra om na die sportgronde toe te beweeg waar ‘n stoor/saaltjie is en waarin die voer gestoor is. Die voer was al ‘n dag of wat vantevore afgelewer. Ook hierin is die hand van die Here vir ons goed gewees. Daar was 10 ton voer wat gratis vervoer en afgelewer was. Die voer was by die saaltjie uitgedeel en deur die boere gelaai. Daar was 200 sakke met gebalanseerde voedingformule vir diere beskikbaar en 25 boere het opgedaag. Elkeen kon 8 sakke laai. Dit is beslis nie baie in die tyd van nood nie, maar die boodskap van hoop en liefde was duidelik dat daar mense is wat omgee en wat dink aan hulle. Die boere, party sover as Kliprand wat teenwoordig was, moes sekerlik aangenaam verras gewees het. Ongelukkig kon ons nie te lank vertoef nie, want die huis was nog ver en die kinders se eksamen het die komende week begin.
Die uitreik na Nuwerus het betekenis en waarde op vele gebiede:
- Dit was vir ons duidelik dat ons regering se beleid van kindertoelaes deur baie volwassenes misbruik word as ‘n bron van inkomste. Kinders word in die wêreld gebring en gesien as inkomstebron terwyl die toelaes in baie gevalle misbruik word op drank en selfs dwelms. Dikwels word kinders wat nie gevra het om daar te wees nie aan mishandeling onderwerp en indien daar nie ‘n ingryping is nie sit hierdie siklus himself voort in die volgende opkomende geslag.
- Nuwerus het geen of bitter min werksgeleenthede en die kinders se drome en lewensverwagtinge kan dus nie te veel wees nie. Dit kan dus maklik oorgaan in ‘n toestand van hulpelose moedeloosheid en sulke kinders kan hulleself ook baie gou in die siklus bevind van toelaes, drank en geweld. Die siklus moet gebreek word en nou kan mens vra hoe? Hoe maak ‘n individu ‘n verskil? Hoe maak De Eike ‘n verskil?
- Elke De Eike individu kan ‘n verskil begin maak om bewus te wees van die situasie, daarvoor te bid en vir mense soos Isobel wat De Eike se direkte skakel is met Nuwerus – deur haar suster Amanda – te bid en te ondersteun. Beide susters doen wonderlike werk en Amanda weet van elkeen se nood. Sy kort egter gebed en ondersteuning in die gemeenskap. Amanda moet dikwels diep delf om in die loop van die maand te help met meel en suiker as die kos opgeraak het by ‘n familie. Ons kan voortgaan om vir Amanda te ondersteun sodat sy die gemeenskap kan help staande hou.
- Ons kan nog uitreikaksies loods om byvoorbeeld kinders te help versorg met speel en leer. Grootmense kan touwys gemaak word op sinvolle maniere hoe om kinders ten beste te versorg en te stimuleer.
- Sportaktiwiteite kan aangebied en beoefen word.
- Ons het nou wel Gideonsbybeltjies saam geneem, maar as ek aan ons eie kleinkinders dink dan weet ek sulke kinders hou van storieboekies en bybelverhale op hulle vlak met prente daarby. Daar is groot behoefte daaraan. Ons gemeentelede wat byvoorbeeld weet waar mens in groot maat sulke boeke kan bekom – byvoorbeeld wat by Bargain Books te koop aangebied word;… dan sou mens dit vir die gemeenskap kon aanskaf. Jare terug was daar ‘n goeie biblioteek op Nuwerus maar ek vermoed dat dit nie meer die geval is nie. Gelukkig het De Eike se mense heelwat boeke geskenk wat ons die naweek afgelaai het, maar as mens op kinders fokus is daar beslis ook ‘n behoefte aan kinderboeke met illustrasies en prente.
- Die gemeenskapsentrum kort ook bietjie werk en kan dalk meer veeldoelig ingerig word om byvoorbeeld ‘n biblioteek te bevat.
- Daar is baie waarmee ons betrokke sou kon raak om ‘n verskil te begin maak. Die vermenigvuldiger effek van Die Heilige Gees sal die saad wat gesaai word laat vermeerder. Ons moet as gemeente net beskikbaar wees en in ‘n sekere sin is dit die waarde van die uitreik. De Eike het ‘n grens oorgesteek met Nuwerus en ons kan hande vat met alle gemeenskappe van Nuwerus en ‘n reis met hulle aanpak wat almal se lewens sal verryk.
- Elke gemeente is ‘n lewende organisme en ‘n lewendige organisme moet inneem, verwerk en uitlaat byvoorbeeld soos om asem te haal. Haal asem in, organe gebruik die suurstof en laat koolstof en waterdamp uit. Die gemeente neem geestelike voedsel in, moet dit verwerk en moet uitasem in die vorm van gee met liefde, goed, tyd en geld. Indien ‘n gemeente en sy lede net die heeltyd geestelik inasem sonder verwerking en uitaseming gaan die gemeente doodgaan. Nuwerus en sy gemeenskap kan vir De Eike die geleentheid bied op ‘n blywende manier om uit te asem en te lewe en te laat lewe. Dit kan vir ons ‘n geestelike doelwit vorm.
- ‘n Droom was uitgespreek deur een van die uitreikgangers om Nuwerus as aanneem gemeente aan te neem. ‘n Soortgelyke model is alreeds baie suksesvol aan die gang tussen die gemeentes van Williston en Paarl. Hulle hou saam basaar waartydens die heerlikste Williston-vleis te koop aangebied word en mooi verhoudinge word op die koop toe gebou. Miskien kan so-iets ook werk tussen De Eike en Nuwerus.
‘n Woord van dank:
- Aan ons gemeente wat die inisiatief heelhartig ondersteun.
- Ons Getuienisaksie Kommissie wat so diep betrokke is vir ‘n hele paar jaar alreeds.
- Die Gresse familie in Kuilsrivier om werktuie van die Here te wees om die behoeftes so aan De Eike bekend te gemaak het.
- Die Bassons op Nuwerus vir die ongelooflike werk wat hulle in die gemeenskap op ‘n stil manier doen.
- Aan Ds. Chris wat sy finalejaar katkisante aan so ‘n ongelooflike projek blootgestel het.
- Aan elkeen van diegene wat die naweek meegemaak het en so ver gery het sonder om enigiets terug te verwag, maar tog so verryk terug gekom het as mense.
- Aan Petrus en Janine wat vir die kinders gesorg het en ook gesorg het dat alle gebeure so goed op beeld vasgelê is.
Bydrae geskryf deur Maartin Oliver – uitreikganger – maartin@vodamail.co.za
Nuwerusser vanaf 1964 tot 1970 (Sub A tot einde Std 4 / Vandag se Graad 1 tot Graad 6)