19 Oktober 2017

De Eike is amper op pad om in Nuwerus te gaan kuier en ons is stil opgewonde daaroor! Slaapplek vir die uitreikspan is gereël en natuurlik moet hierdie jongmense wat saamgaan genoeg kos kry sodat hulle nie teveel na ma se kombuis verlang nie. Daar is twee voertuie wat die uitreikspan na Nuwerus gaan vervoer en die voer vir die diere word per vragmotor gedoen.

Ons program vir die naweek sien soos volg daar uit:

  • Vrydag, 27 Oktober 2017, is ons op pad na Nuwerus en die aand word ons deur ons naweekouers bederf met sop en tuisgebakte brood.
  • Saterdagoggend woon ons as uitreikspan die gemeente se basaar by. Johan Carstens hulle gaan die oggend ook in Nuwerus aankom waarna die sakke mielies aan die boere oorhandig gaan word.
  • Saterdagmiddag is ons in kontak met met die VGK se kinders terwyl die grootmense huisbesoeke by van die bejaardes gaan doen.
  • Saterdagaand gee ons naweekouers vir ons ’n braai op die egte Nuwerus tradisie.
  • Sondagoggend preek ds. Chris en die uitreikspan woon die erediens by.
  • Daarna vertrek ons terug na Kuilsrivier.

Wat moet nou gebeur? Bid asseblief vir ons! Bid vir ’n veilige reis na Nuwerus en terug. Bid asseblief vir elke persoon wat deel is van die uitreikspan vir gesondheid en lewenskrag. Bid dat Jesus se liefde in Nuwerus sal seëvier. Bid dat die mense van Nuwerus aangeraak sal word met die lewensveranderde krag van die Heilige Gees. Bid dat elke persoon van die uitreikspan nie op eie vermoë sal staatmaak nie, maar dat alles in die naam van Jesus sal geskied.

Komende Vrydagaand gaan daar ’n miernes van aktiwiteite in die kerksaal plaasvind. Die “boksies” vir die kinders van Nuwerus moet gepak word en jy kan regtig kom inloer en handjie bysit as jy so voel  terwyl ons ’n worsie braai en heerlik saamkuier.