8 Junie 2018
Phillie, wat die stukkies vir Johan aangestuur het, merk op: “Hiermee die aangehegte inset oor die Worcester-uitstappie. Dis miskien effens aan die lank kant, maar die besoek aan die Instituut vir Blindes was so leersaam dat dit moeilik is om iets weg te laat.
“Wat my veral getref het by “Innovation for the Blind”, was hierdie mense se
positiewe benadering tot hul omstandighede, hulle is so vriendelik en die
lewensvreugde straal uit hul uit”. Elise van Wyk
“Ek was baie geraak deur die positiwiteit ten spyte van hul gebrek van die vier persone wat spesiaal opgetree het en kon nie help nie om te wonder hoe veral David (‘n doof-blinde) se lewe sou verloop het sonder die opleiding en die tegnologiese hulpmiddels wat beskikbaar is vir doof-blinde persone”.
Phillie van Wyk
Die korter weergawe:
Wat ‘n fantastiese ondervinding saam met ‘n klompie entoesiastiese senior burgers!
Dit het die oggend begin met ‘n busrit deur die Du Toitskloof pas se asemrowende natuurskoon met die berge aan weerskante van die pad wat bokant jou uittroon en nog ‘n waterval of twee ook. Ons Boland bly maar vir ons die mooiste omgewing.
By die Instituut vir Blindes is ons hartlik verwelkom deur die personeel. Ons het vir David Geyer, ‘n 73 jarige doofblinde man, ontmoet. Hy het op sewe jaar meningitis gekry en was in 1958 die eerste doofblinde leerling by die Instituut. Hy gebruik die Tadoma-metode om te kommunnikeer wat behels dat hy sy hand op die kant van jou kop sit met sy duim op jou lippe en sy vingers teen jou keel. Hy en Ledivia, een van die personeel, het demonstreer en ons was gefassineerd met die manier waarop hy kon voel wat sy sê en dus vrae kon beantwoord. Hy is een van slegs 53 mense in die wêreld wat op hierdie unieke metode kan kommunikeer. Hy het ook ‘n draagbare rekenaar waarmee hy deur middel van braille met sy selfoon kommunikeer. Hy kan dus boodskappe op sy selfoon ontvang en stuur.
Die drukkersafdeling het ons ook verstom met die boeke wat hulle in vele formate druk en selfs op bande opvang. Gewilligers kom lees boeke, die Bybel, skool- en universiteitsvraestelle en tydskrifte soos Die Huisgenoot voor en dit word in hulle eie studio opgevang op CD’s. Hulle stuur CD’s tot sover as oorsee en dit alles verniet deur die Poskantoor.
Ons is ook getrakteer op musiek gemaak met ‘n trekklavier en kitaar deur twee van die inwoners en die voete het omtrent gejeuk. ‘n Vrou, wie in haar eie woorde bekend staan as “die straatvrou” het verskeie hulpmiddels vir gesiggestremdes demonstreer. Daaronder was verskeie vorms en grotes vergrootglase vir verskeie doele en sy het ook aangebied dat mense vir haar kan kontak vir gratis oogtoetse om te bepaal in watter mate hulle oë verswak het.
Om 1 uur het ons na Kleinplasie vertrek en daar het ‘n ietwat deurmekaarspul op ons gewag. Die restaurant was nie voorbereid op ons klompie nie, want hulle was onder die indruk dat ons eers die 7de Junie daarheen sou kom. Hierdie was die oorspronklike datum wat deur die Instituut vir Blindes geskuif is na 31 Mei. Hulle moes inderhaas nog tafels en stoele indra om plek te maak vir almal. Nietemin het hulle ons almal van koffie, kos en poeding voorsien en het dit ongelukkig net meer tyd in beslag geneem as wat verwag is. Daar was dus nie baie tyd om daar rond te kyk nie en 3 uur het ons weer in die pad geval.
Dit was regtig ‘n insiggewende uitstappie om nog lank oor te gesels en te onthou.
My dank aan almal wat betrokke was met die reëlings vir hierdie heerlike dag.
Langer weergawe:
SENIOR BURGERS BESOEK INSTITUUT VIR BLINDES
Ons seniors word Donderdagoggend 31 Mei 2018 by “The Blind Spot 19 on Napier” (foto hierbo – Red.) op Worcester deur ‘n vriendelike Ledevia ontvang. Sy verwelkom ons hartlik by “Innovation for the Blind” – die nuwe naam van die Instituut vir Blindes. ‘n Onbekende wêreld ontvou hier voor ons. Ledevia verduidelik dat daar drie maniere van kommunikasie is. Die vingermetode wat die alfabet uitspel; gebare taal waar twee hande gebruik word en die Doman-metode waardeur ‘n doof-blinde persoon kommunikeer met ‘n ander pesoon deur sy/haar hand op die keel en lippe van die ander persoon te hou terwyl die persoon praat. Ons is verstom toe ene David ‘n gesprek met Ledevia voer. David het op sewejarige ouderdom breinvliesontsteking opgedoen wat doof- en blindheid by hom veroorsaak het. Hy is baie entoesiasties oor sy gholf en skaak. In sy jonger dae het hy het ook hoogspring beoefen en ook al as ‘n navigator aan motorresies deelgeneem. Hy is versot op ‘n oulike apparaat wat om sy nek hang waarmee hy whatsapps van sy selfoon af kan stuur. Ongelooflike tegnologie!
Volgende sprekers is Mari-Louise en haar kollega, Shani, van die drukkery waar, onder andere, Braille boeke gedruk word. Ons kon duidelik die verskil in dikte tussen ‘n braille boek en ‘n gewone boek sien. Hulle druk ook braille inkleurboeke. Gewone storieboeke en tydskrifte soos Sarie en Huisgenoot word op band/CD opgeneem en versprei. Hulle het ‘n unieke houer waarin die verspreiding van CD’s geskied en die SA Poskantoor doen dit gratis. Shani lewer ‘n demonstrasie op haar braille tikmasjien. Ongelooflik om die vinnige spoed waarteen sy die volgende boodskappie tik te sien! Haar boodskappie lees: “Goeie dag. Ons hoop julle het die dag by Innovation for the Blind geniet. Kom gerus weer. Groete”
Volgende word ons eers op trekklavier en kitaar deur die blinde Cassie Britz en Sakkie Read met ligte rock- en boeremusiek vermaak. Cassie (op trekklavier) vertel hoe die beddegoedman eendag jare gelede op die trein vir hom gesê het dat hy beter speel as Nico Carstens, en wou weet hoekom hy nie sy eie plate maak nie.
Hierna is dit Sharon Goosen se beurt. Sy verwys na haarself as Worcester se “straatvrou” omdat sy ‘n bekende in die dorp is. Sy neem blinde mense die strate in en leer hulle hoe om selfstandig met ‘n witkierie oor die weg te kom. Persone wat op ‘n later stadium van hul lewe blind word, kan vir ‘n maand lank by Sharon tuisgaan waar sy hulle take leer om makliker selfstandig te kan funksioneer. Sy gesels oor Makulêre degenerasie van die oë en wys ons van die visuele hulpmiddels wat beskikbaar is vir persone wat aan die toestand lei. Persone kan op afspraak deur haar getoets word om die beste vergrootglas vir elke spesifieke behoefte te bepaal.
Dit is baie jammer dat die ander nywerhede waar die blinde persone al die ander produkte vervaardig, tans gesluit is en ons dit nie te siene kon kry nie.
Na ‘n ligte middagete by die Kleinplasie Restourant het ons die terugtog huistoe aangepak.
Elise van Wyk
En die digterlike weergawe!
Uitstappie na Worcester
Eendag, op ‘n reëndag
Vertrek de Eike se fossiele
Hier weg op twee busse se wiele
Aangekom op Worcester
Ontdek ons mense wat gestremdes koester
Die personeel van “Innovation for the Blind”
Het ons verras met hul toegewydheid vir “deaf or blind”
Dit is ‘n groot genade en getuie
As God ons seën met die gebruik van al ons sintuie
Hierna vertrek ons na Kleinplasie
Daar aangekom – een groot konsternasie
As gevolg van ‘n misverstand met die restourant se personeel
Is daar nie genoeg kos om aan ons uit te deel
Vlytige kelnerinne van die restourant
Met viendinne se hulp byderhand
Wat gaan help in die kombuis met die kos
Is die probleem gou-gou opgelos
Wat ‘n vreugdevolle uitstappie!!
Groot dank vir die organiseerders!!
Othello Vriendinne