28 September 2018

Voel dit nie dikwels asof Vrouekommissies in die huidige milieu tot weinig meer as “koek-en-tee”-kommissies afgewater geraak het nie? Nogtans is iets te ete en iets te drinke juis ‘n manier om ons gasvryheid en omgee te bewys en so diensbaar te wees in ons gemeentes en gemeenskappe.

Die Vrouekommissie van Kuilsrivier-De Eike het op Maandag, 17 September die middag by die De Kuilen Tehuis vir Bejaardes spandeer en gesorg vir lekker eetgoedjies saam met die middagtee en -koffie.  Inwoners en personeellede is ook bederf met geskenkpakkies, wat in die meeste gevalle sommer dadelik oopgemaak is.

Inwoners se blymoedigheid – ten spyte daarvan dat baie met hulpmiddels moet loop, met rolstoele oor die weg moet kom, of selfs bedlêend is – sal my bybly.  Ek het gegaan om ander te bedien met ‘n glimlag, ‘n aanraking, ‘n paar vriendelike woorde, tog is dit my siel wat verryk is in die proses.

Fotos wat tydens die uitreik geneem is. Daarop kan jy self sien hoe almal dit geniet het. (Dankie vir die foto’s, Elmari!)