28 Februarie 2020
Die tema vir die 2020 Wêreldbiddag is: “Staan op! Neem jou slaapmat en loop.” By ons geemeente word die byeenkoms op Vrydag, 6 Maart, om 9:30 in die kerk gehou. Die geleentheid is nie net tot vroue beperk nie en almal is dus ewe welkom om dit by te woon. Hilze Malherbe kom deel haar kragtige getuienis oor haar geestelike “heelwording” na haar kanker-diagnose met ons.
Die Wêreldbiddag is ‘n wêreldwye, ekumeniese beweging van Christen-vroue, -mans en -kinders, wat jaarliks bymekaarkom om ‘n besondere dag van gebed te vier. Dieselfde tema word regoor die wêreld in 176 streke en lande gevier. Die program vir die diens is saamgestel deur die skrywerland (Zimbabwe), onder leiding van die Internasionale Komitee, maar die aanbieding daarvan is aangepas vir Suid-Afrika se unieke omstandighede.
Hierdie jaar se viering van die Wêreldbiddag is spesiaal, aangesien dit die 90ste jaar is wat die Wêreldbiddag vir Vroue in Suid-Afrika gehou word.
Daar sal ‘n kollekte opgeneem word, ten bate van die Wêreldbiddag vir Vroue-organisasie in Suid-Afrika, omdat donasies hulle enigste bron van inkomste is.
Die kunswerk is deur Nonhlanhla Mathe gemaak. Sy verduidelik die simboliek as volg:
“Die kunswerk beeld verskillende mense in die gemeenskap se lewe uit. Die boonste deel van die agtergrond, van regs na links, stel ‘n oorgang van ‘n moeilike, donker verlede as ‘n nasie, na ‘n meer voorspoedige en belowende toekoms voor. Die onderste groepering is meer ‘n uitbeelding van liefde, genesing en versoening, geïnspireer deur die storie in Johannes 5:2-9a. Die fokus op plantegroei wys na die potensiële ekonomiese produktiwiteit, aangesien die ekonomie op landbou gebaseer is. Ek het gefokus op die abstrakte en semi-abstrakte uitbeelding van figure, met baie tekstuur en kleur. Ek word baie deur mense se lewens geïnspireer: die manier hoe hulle by mekaar aanklank vind, en die manier hoe hulle sake beskou. Omdat ek ‘n vrou is, fokus ek hoofsaaklik op vroue. Bemagtiging word ook in die kunswerk uitgebeeld.”