9 Maart 2018
Die uitbreek van listeriose (ons het waarskynlik almal ‘n nuwe woord geleer!) – as gevolg van besmette koue en geprosesseerde vleisprodukte – oorheers die afgelope week nuusberigte en verslaggewing. Skielik is daar (vir die huidige) ‘n meer dringende krisis as die dreigende watertekort in die Wes-Kaap.
Terwyl ek geensins die ernstige gevolge van listeriose uit die oog wil verloor nie, beide ten opsigte van die verlies aan talle mense-lewens en ook die ernstige implikasies vir die betrokke voedselmaatskappye, is daar reeds baie oor die onderwerp gesê. Ek verwys eerder na Job 5:22 (Die Boodskap) wat sê: “Jy kan gerus maar ontspan oor rampe en hongersnood.” In die daaropvolgende verse word Job verseker van God se voortgesette redding en sorg, dat Job vir niks bang hoef te wees nie en dat God hom ryklik sal seën.
Ons kan dus ontspan oor die dinge waaroor ons ons bekommer: God is in beheer!
Om hierby aan te sluit, is ek oortuig daarvan dat God vir ons ‘n sin vir humor gegee het juis om moeilike situasies meer draaglik te maak. Suid-Afrikaners kry dit by uitstek reg. Wie van ons het nog nie in die afgelope week grappies gehoor oor polonie nie? So gaan dit ook met bykans elke ander “slegte nuus”-situasie.
Suid-Afrikaners het nog altyd die vermoë gehad om die beste van ‘n slegte situasie te maak en veral om vir hulleself te lag. Net soos wat krisistye geneig is om verskillende groepe te laat saamstaan, om ons te herinner dat ons almal in dieselfde bootjie is, het humor dikwels dieselfde effek.
Ek sê weer: ons kan gerus maar ontspan oor die dinge waaroor ons onsself bekommer en selfs ‘n slag lekker lag, want ons weet: ons God is, en bly, in beheer.
Elmari Schwenke