5 Februarie 2021
Sedert die bou van ons kerkgebou, is daar deur die jare baie min of geen onderhoudswerk onderneem nie – ook maar omdat beskikbare finansies (of eerder die gebrek daaraan) altyd ‘n groot faktor was. Die resultaat hiervan is dat ons nou op ‘n punt gekom het waar ons die onderhoudswerk nie langer kán uitstel nie. Dit is belangrik dat die huidige herstelwerk afgehandel moet word voor die volgende reënseisoen, om sodoende (verdere) strukturele skade aan die gebou te verhoed. Kyk gerus self na die foto’s hier .
Vergewe my asseblief my gebrekkige begrip van eiendomme en verwante sake, wanneer ek probeer verduidelik: Nes ons, het geboue ook beskerming nodig teen die elemente. Veertig winters se reën en wind het sy tol geëis en oral waar water sy pad in kon vind, het die staal wat die betonmure versterk, begin roes. Verskeie waterlekke wat nie aangespreek is nie, het begin lei tot skade aan die betonstruktuur van die gebou. Net so het van die metaaldakplate ook begin roes.
Die herstelwerk waarmee ons nou besig is, is hoofsaaklik om skade aan die plat dek tussen die saal en die kerk, asook aan die dak van die administratiewe kompleks, te herstel.
Die risiko van skade aan die struktuur van die gebou wat nie gekeer word nie, is dat die gebou mettertyd onveilig sal raak en dat ons later nie ‘n ander keuse sal hê as om die gebou te sloop nie. Dit wil ons tog nie hê nie, en daarom is onmiddellike optrede van kritiese belang.
Ons wil ook leer uit foute van die verlede en die regstellende aksieplan sluit beplande onderhoudsprogramme vir die toekoms in.
Die firma INDAWO is tans besig om die noodsaaklike herstelwerk te onderneem. Die koste daarvan beloop al byna ‘n halfmiljoen rand, wat ons uit ons reserwe-fondse finansier.
Natuurlik maak hierdie herstelwerk ‘n ernstige duik in ons reserwe-fondse. Dit beteken dat ons kreatief sal moet begin dink aan nuwe fondsinsamelingspogings.
Ek haal aan uit die Winter 2019-uitgawe van die SARIE KOS-tydskrif: Dit het als by ta’ Koba Rademeyer begin, wat met haar koeksisters doerie jare geld help insamel het vir die bou van die AGS-kerk in Goodwood. “Daai kerk is met koeksister-geld gebou. Wee’ jy hoeveel kos ‘n kerk?”
As ons geesgenote in Goodwood ‘n plan kon maak, kan ons seker ook.
Elmari – Fondse