11 Junie 2021

MY INDRUK VAN DIE BASAAR VAN 2021

 

Die oggend was wel koud en reënerig, maar die ontvangs by die hek was vuurwarm. Op die parkeerterrein was die atmosfeer gemoedelik met die kelners wat hul taak flinker as flink uitgevoer het. Al het jy in jou motor bly sit, het dit gevoel soos basaar. Ons is daar weg met lekkernye wat net ‘n “Roadhouse” basaar kan bied. Tuis kon ons sommer net weglê aan heerlike middag- en aandete. Soos gewoonlik het die boepensbroodjies (diè woord wat ek by De Eike leer ken) hul naam gestand gedoen. Die broodjie het koeëlrond gestaan met die smaaklikste vulsel. Een pannekoek het gelyk soos twee. Wat is ‘n basaar sonder die bekende De Eike-worsjors?

Ons het ook vir my 95-jarige moeder in Tygerbergheuwels ‘n Roadhouse-mandjie geneem. Nà die poeding moes ek saam met haar stem: Daar is darem niks lekkerder as basaarpoeding nie. Knap gedaan al jul harde werkers!  Roadhouse-2021 was van die inry by die hek tot by die laaste happie absoluut puik.

Baie dankie.

Elise van Wyk