31 Mei 2019
Ek het die voorreg gehad om verlede week die vergadering van die Sinode van Wes-Kaapland by te woon. Dit is bykans onmoontlik om die rykdom en diepte van elke gedagte en gesprek gedurende ‘n tydperk van 5 dae in ‘n paar sinne of paragrawe saam te vat. Dit was 5 lang dae, maar ook 5 geseënde dae waarin ek werklik ons Here se teenwoordigheid ervaar het.
Die tema van die Sinode-sitting was: Volg Jesus met waagmoed. Die tema is grootliks geïnspireer deur ‘n oordenking van die bekende teoloog Henri Nouwen, na aanleiding van sy verblyf by ‘n groep sweefstokakrobate. Die leier van die groep sê dan:
… as a flyer, I must have complete trust in my catcher. The public might think that I am the great star of the trapeze, but the real star is my catcher. He has to be there for me with split-second precision and grab me out of the air as I come to him in the long jump. The secret is that the flyer does nothing and the catcher does everything. I have simply to stretch out my arms and hands and wait for him to catch me. I am not supposed to catch him. It is his task to catch me. A flyer must fly and a catcher must catch, and the flyer must trust with outstretched arms, that the catcher will be there for him. (uit: Turn My Mourning into Dancing: Finding Hope in the Hard Times).
Dit verg waagmoed om die stokkie te los. As dissipels en as kerk van Christus word ons opgeroep om te waag – om God se roepstem te hoor en die swaai te los en die toekoms in te vlieg in vertroue en in die geloof dat daar iets heerliks wag, want God (ons Vanger) is reeds daar.
Die byeenkoms is enersyds ‘n plek waar besluite geneem word oor die rol van die kerk en beplanning gedoen word vir die volgende vier jaar, en andersyds ‘n geleentheid vir al die onderskeie Sinodale Diensgroepe om verslag te doen oor die uitdagings en suksesse van die afgelope 4 jaar.
Die Sinode het oor die volgende hooftemas besin:
- die kerk se rol om hoop te gee in tye van rampgebeure
- ekologie,
- ekonomie en die volhoubaarheid van gemeentes
- menswaardigheid
- ons politieke landskap
- spiritualiteit – ingeprop by die Kragbron
- selfdegeslagverhoudings
- ’n kerk vir die volgende generasie (millennials)
- evangelisasie
- nuwe uitdrukkings van kerkwees
- teologiese opleiding
Die goeie gesindheid waarin oor moeilike en emosie-belaaide onderwerpe besin en besluit is, is sprekend van ons “kerk van God-wees”.
Die grootste waarde van die Sinodesitting (vir my) lê in die kontak met mense met ‘n gedeelde visie vir die uitbouiing van God se koninkryk. Ons kry die geleentheid om bande te smee met ons broers en susters in Christus en om by mekaar te leer. Saam kan ons hande vat om mekaar te ondersteun, te bemoedig en te begelei wanneer ons weer na ons eie gemeentes terugkeer.