2 April 2020
VERTROU GOD IN ALLES
Ons lewe in onseker tye en in die omstandighede waarin ons onsself nou bevind, is ons selfs meer akkuut bewus hiervan. Vir ons as God se gemeente is dit egter nie ‘n rede tot kommer nie. Ons kan steeds in alle tye en in alle omstandighede op God vertrou.
Kyk wat sê Ps. 37:3: “Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort.” (1983-vertaling)
Vers 5 eggo dieselfde gedagte: “Vertrou op Hom. Hy sal vir jou sorg.” (Die Boodskap)
By De Eike kan ons met groot dankbaarheid terugkyk op die afgelope 43 jaar waarin God presies dit gedoen het en ons deurlopend geseën en versorg het. Waarom twyfel ons dan nou dat God sal aanhou om dit te doen?
Ek is gevra om spesifiek oor ons finansiële posisie duidelikheid te gee.
My verwagting is dat ons vir die afsienbare toekoms nie in ‘n posisie sal kom waar ons nie ons gereelde maandelikse verpligtinge sal kan nakom nie. God het ons die afgelope paar jaar tot só ‘n mate geseën dat ons voldoende reserwefondse beskikbaar het om ons verpligtinge na te kom totdat ons weer kan voortgaan met ons normale aktiwiteite en fondsinsamelings.
Ons maandelikse dankoffers is en bly ons belangrikste bron van inkomste. Maandelikse bydraes kan steeds elektronies oorbetaal word. Ek wil ook my dankbaarheid uitspreek teenoor lidmate wat ook hulle kollektes (wat tydens eredienste opgeneem sou word) elektronies oorbetaal het.
Gepraat van fondsinsamelings: die Uitvoerende Kommissie het besluit om ons basaar uit te stel na 25 Julie. Die basaarlyste is reeds uitgestuur, maar die sperdatums waarna daarin verwys word, is nou nie meer van toepassing nie. Nuwe sperdatums sal mettertyd vanuit die Kerkkantoor bekend gemaak word.
Ps. 37 herinner ons telkens daaraan om op God te vertrou. Die huidige uitdaging is om nuwe en kreatiewe maniere te vind om daardie vertroue uit te leef. 1 Pet.4:10-11 vra juis dat ons mekaar dien met ons gawes.