29 Oktober 2024

Liewe De Eike-lidmaat,

 

Ek blaai deur die Nuwe Testament om te sien wat die Bybel sê oor dankbaarheid en iets val my op.  Lees gerus saam met my:

 

Fil.4:4 Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! (‘83-vertaling)

 

Fil. 4:6 Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging* aan God bekend. (2020-vertaling)

 

Kol. 4:2 Volhard in gebed.  Wees waaksaam en dankbaar as julle bid. (2020-vertaling)

 

1 Tess. 5:16 Wees altyd bly;

             5:17 bid sonder ophou;

            5:18 wees in alle omstandighede dankbaar; (2020-vertaling)

 

Hierdie 3 dinge hierbo word telkens in dieselfde asem genoem: blydskap, gebed en dankbaarheid.

 

* Hoekom moet ons ons versoeke juis met danksegging aan God bekend maak?  Ek vind die antwoord in Markus 11:24 “Daarom sê Ek vir julle, alles waarvoor julle bid en vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so gebeur.”

 

Joh. 16:24 “Tot nou toe het julle niks in My Naam gevra nie.  Vra, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.”

 

Ons bid met danksegging omdat ons alreeds ontvang het!

 

Die tweede rede vir ons dankbaarheid vind ek in 1 Tess. 5:18 “wees in alle omstandighede dankbaar; want dit is God se wil vir julle in Christus Jesus.”

 

Ons vra dikwels na God se wil.  Hier lees ons dat dit God se wil is vir ons dat ons ‘n gesindheid van dankbaarheid moet hê.

 

Ek sluit graag af met die gedeelte waarmee ek begin het:

 

Fil. 4:7 En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.

 

 

Mag hierdie ‘n geseënde dankbaarheidsmaand vir jou wees.

Elmari Schwenke-van der Walt,

namens die Fondse-kommissie