7 September 2018

Vakansie is verby, kinders is terug skool toe. Terug na normale roetine. Ben sien ‘n erfie te koop in Struisbaai en sê dadelik hy wil dit koop, so ‘n paar finansiële dinge sal moet verander, indien ons wil begin bou. Onder andere besluit ons om van mediese fondse te skuif, net omdat Medihelp goedkoper is.

Van 1 Maart af is ons lede van Medihelp, maar GEMS is eers bereid om ons lidmaatskap 31 Maart te beëindig. So besluit om tog vir Zané Dr toe te neem, aangesien sy al hoe meer kla haar been is seer.

13 Maart neem ek haar Dr toe. Dr du Toit stel voor ons doen ‘n sonar om beserings aan sagte weefsel te sien. Daar is nie eintlik tyd nie, maar sy kry gelukkig die volgende dag ‘n afspraak, sonar is gedoen. Nou sê die dame, die Radioloog wil graag x-strale ook sien. Goed ons wag ‘n oomblik, x-strale geneem. Ek vra die Ontvangsdame of ek gou vir Tia by die skool kan gaan haal, dan sal ek verslag kom optel.

Terug by Radioloë, ek gaan net verslag optel, so los ek my foon sommer in kar. Ons moet wag, die Radioloog wil eers met Dr praat. Ons wag! Volgende oomblik wil Dr met my gesels. Daar is ‘n massa wat nie daar moet wees nie. Kan ek haar die middag 16h30 by Dr Ryno Du Plessis by Louis Leipolt hê. Geen probleem.

Ben werk die week in George, so tussen deur hou ek hom op hoogte. Reël vinnig met Skoonouers dat Tia daar kan bly, om vir toets te leer. Dr Ryno stel voor ons doen ‘n MRI sodat hulle mooi kan sien wat daar aangaan, dan sien ons hom weer Dinsdag.

Donderdag middag stop Ben by die huis, hy kan nie op sy werk konsentreer nie, want dit klink ernstiger as wat ons vermoed het. Groeipyne/spier besering, sy is baie aktief.

Vrydag kry ek afspraak en MRI word gedoen. Dieselfde middag bel Dr Ryno, Zané antwoord en kom roep my. Skaars foon neergesit of sy wil weet. My kind Dr sê dis KANKER en jy moet Maandag by Dr Keith Hosking, by Vincent Palloti wees. Nou begin sy vrae vra: Wat is die ergste wat kan gebeur? Jy kan jou been verloor. Soos Natalie Du Toit? Ja, my kind. Dis ok, ek kan kunsbeen kry. My hart skeer, hoe kan sy dit net aanvaar.

Gou vir Ben gaan wakker maak en vertel wat Dr my vertel het. Ben het baie vrae en my kop staan stil. Iewers het dinge ophou registreer. Ek kan nie eens onthou of ons ooit geëet het nie. Die familie moet weet, so kontak ek almal. Ben en Skoonouers is baie emosioneel. My Ma is by my Suster in Christiana, want sy het ook kanker. Sy wil weet wat het Dr presies gesê .

Ben se trane loop kort kort, ek wil nie hê Zané moet hom so sien nie, so deel ek take uit, net om aandag besig te hou. Daar is nie tyd vir dink nie, alles gebeur net. Skoonouers is in trane, kan nie eens met haar praat nie. Sy stel hulle gerus, Jesus is by my, ek gaan ok wees. Daar is die knop weer in my keel. Sy aanvaar alles so maklik, hoekom het ons nie soveel vertroue nie.

Asseblief moet net nie dat die naweek verby gaan nie, wat gaan die Dr sê. Sê nou dis iets wat ons nie wil hoor nie. Ek laat weet haar Juf dat Zané die res van die kwartaal nie terug skool toe kom nie. Juf huil, sy kan nie glo Zané het kanker nie. Haar glimlag kind. Netbal Juf wil hê sy moet asb Maandag se oefening bywoon. Jammer, dit gaan nie gebeur nie.

Die naweek is gans te vinnig verby, ons wil nie Vincent Palloti toe nie, maar weet ons moet. Ons is bietjie vroeg, niemand behalwe Zané praat nie. Ek reageer en antwoord outomaties. Dr Keith Hosking wil sommer die volgende dag Biopsie doen. Hy stel ons gerus, sy is in goeie hande. Verduidelik wat ons behandeling betref en hy behoort ‘n goeie idee te hê wat se kanker dit is, na Biopsie. Sy mag nie verder gewig op been sit nie, so ons moet ‘n krukke vir haar kry. Zané is nul per mond, sy moet 7 uur daar wees, dit word ‘n lang dag. Ons wag, Zané raak honger en hulle kom haal haar nie in die saal nie. 12 uur kom hulle haar uiteindelik haal, sy baie honger. Ben wil nie eet nie, want Zané mag nie eet nie. Dit voel soos ure wat ek voor die operasie saal wag, die minute gaan stadig verby. Uiteindelik kom Dr uit, hy is 100% seker dis Osteosarkoma. Woensdag is ‘n vakansie dag, so ons sal eers Vrydag uitslae van Biopsie kry. Nog 3 lang dae.

Vrydag is ons terug by Dr Hosking, ja dit is Osteosarkoma. Sy gaan 4 sessies chemo kry, dan gaan hulle opereer, daarna weer 4 sessies chemo. Hy het reeds afspraak met Onkoloog gemaak. Sy moet Maandag oggend 10h00 by Rondebosch wees. Ek vra hoe gemaak met medies, hy stel voor ons bly by GEMS. Ben sal so gou moontlik by GEMS se kantore moet uitkom en situasie aan hulle verduidelik en ook met konsultant by Medihelp gesels. Nog ‘n lang naweek… ek moet hard met Ben praat hy wil nie eet nie. Ek kan nie met nog een cope nie. Ons moet sterk wees vir Tia en Zané.

Ben stres oor hy so baie afvat by werk, maar hy wil graag daar wees vir Zané, so vra ek brief vir Onkoloog, sodat HR rekord kan hê, waarom hy van tyd tot tyd af vat. Ek vra ook brief vir skool. Dr Annabella Andrade, sy het reeds gehoor toets en Hartsonar gereël. Zané se volgende afspraak is 12H00 by Christiaan Barnard hospitaal en 14h00 by Louis Leipolt. Sy stel voor ons verruil krukke vir rolstoel, want sy is bang been breek. Dit raak weer ‘n besige dag. Gelukkig is ons tuis voor Tia uitkom. Ek leen ‘n rolstoel vir Zané.

Dinsdag gaan Ben Worcester toe na GEMS se kantore, hulle sal ons binne 48 uur laat weet. Ek het nie 48 uur nie. Medihelp is bereid om lidmaatskap van 1 Maart af te kanselleer. Een ligpuntjie. Dankie Jesus.. Volgende 2 dae is sy by Rooikruis vir nog toetse. Sy word so vol naalde gesteek dat ons spot sy gaan soos fontein spuit as sy water drink.

Onkoloog bel my, Zané moet vir PET SCAN gaan, maar GEMS sê ons is nie meer lede nie. Scan kos R12000. Ek sê ons sal betaal, ek vra nie eens vir Ben nie. My kind is meer werd as dit. Dis Paasnaweek, langste naweek in my lewe.

Dinsdag, 3 April, meld ons aan by Tygerberg vir PET SCAN, Ben moet betaal, hy is vies. Ek gee nie om nie. Skaars betaal, daar kry ons magtiging van GEMS. Hulle het ons kansellasie gekanselleer. Ongelukkig is Tygerberg se sisteem af, so Ben moet geld later terug eis.

Terug by Dr Andrade, moet ons hoor sy het eintlik Ewing Sarkoma. 53 weke behandeling tydperk, sjoe dis lank. Sy gaan ‘n hele jaar se skoolwerk mis. Wel, ten minste kan behandeling begin. So begin eerste chemo sessie, 3 dae intense chemo. Sy het verskriklik baie pyn, sy is naar, sy kry warm. Ai, my hart breek om my kind so te sien en ek kan niks doen nie.

Ons kan huistoe gaan, so dankbaar. Die ondenkbare gebeur, sy gil van pyn die hele naweek maak nie saak hoeveel pynpille ek gee nie, niks help nie. Sy wil nie eet nie, want dis te seer. So word sy weer in

hospitaal opgeneem vir pyn behandeling, 4 dae lank word sy gemonitor, hulp van Dieetkundige word ingeroep, maar Zané eet niks. Dankie Heer, geen pyn meer nie, maar sy slaap 24 uur per dag. Sy eet nie, te moeg om te eet. Ek stres weer van vooraf, want sy kan nie al die meds op leë maag drink nie. Opvolg ondersoek na chemo, moes ons hoor Drs verskil oor diagnose. Dr Andrade het Prof in London gekontak om opinie te kry, want hulle moet weer ‘n Biopsie doen, maar been is te bros.

Goed, hulle gaan Biopsie van sagte weefsel doen. Biopsie gedoen, sy slaap nog heeltyd. Dr Hosking bekommerd oor haar toestand.

Jammer, maar dis nie Ewing Sarkoma nie, dit is Osteosarkoma. So behandeling verander. Nou strek behandeling oor slegs 27 weke, dankie Heer.

Na die volgende chemo sessie, verdwyn pyn. Sy drink geen pynpille nie, eetlus kom terug. Dit gaan baie goed, my hart loop oor van dankbaarheid. Dit gaan goed. Chemo sessie kom en gaan, ja sy voel sleg tydens chemo sessies, maar dis gou verby.

4 Sessies later, is dit tyd vir voor operasie toetse. Sy is reg daarvoor, want sy wil operasie agter die rug kry. Sy sien uit daarna om weer te loop. Toets uitslae word aan Dr Andrade gestuur, sy bel my. Jammer Mevrou, gewas het gegroei ipv gekrimp. Neeeee…. Dit kan nie wees nie. Sy het geen pyn meer nie. Die been se swelsel is baie kleiner. Die Here het ander planne.

Ortopeed stel voor ons verwyder gewas en behandel dan die res.

Onkoloog wil eers medikasie uitsorteer voor hul opereer, nou wat nou?

Gelukkig word dit ‘n maklike besluit, los ons operasie en sy breek die been, moet hulle amputeer. Nee, opereer asseblief.

Operasie was ‘n groot sukses, sy het prostese in gekry en is vir 6 weke op krukke. Sarkoom is heeltemal verwyder en dit kan nou ontleed word, om die pad vorentoe duideliker te maak. Zané is so bly en verlig om weer te kan loop. Rolstoel is weggepak, dit gaan nog stadig, maar elke dag beter.

Ek kan nie genoeg dankie sê vir die gebede, die kos wat gereeld afgelewer word nie. Jandré wat sy tyd op offer om kinders skool toe te neem. Tannie Bettie vir die bederf van Tia en Zané. Die gereelde boodskappe en oproepe. Baie dankie vir elkeen se ondersteuning. Ek weet nie waar ons sou gewees het sonder Kuilsrivier se mense nie.

HERE, VANDAG WIL EK NET DANKIE SÊ VIR DIE ENGELE WAT U OOR ONS PAD STUUR