9 Februarie 2024

Hallo liewe gemeente

Gister was afskopdag vir die Kinderkerk van NG Kerk De Eike, wat terloops hierdie jaar TIEN JAAR oud is, en gevier gaan word met ‘n gemeentekonsert op 30 Augustus.  Teken aan!

 

Ewenwel, ons tema vir die jaar is Vreemde en Crazy Stories in die Bybel, met

Kwartaal 1:  Vreemde vroue in die Bybel.    Ek sou dit eerder noem “Interessante” vroue in die Bybel.  Of “Merkwaardige” vroue.  Maar ons ontvang die tema en die materiaal so vanaf die Jeugkantoor.

 

Ons skop toe af met Maria, wat Jesus se voete gesalf het met baie duur Nardus olie, en haar die woede van Judas op die hals gehaal het.  Gelukkig het Jesus vir haar ingetree, en Judas berispe.

Wat ons uit hierdie storie geleer het, is dat Maria verskriklik lief was vir Jesus, en uit dankbaarheid hierdie daad vir Hom gedoen het.  Hy het haar broer, Lasarus, uit die dood opgewek, en sy wou haar beste, hierdie duur olie vir Hom gee. Sy moes seker bitter lank spaar om dit te koop.  Uit liefde het sy, Sy voete gesalf, en dit toe afgedroog met haar lang hare.

 

Ons het ook geleer dat ons, ons ALLERBESTE vir Jesus moet gee, hetsy ons besittings, of ons tyd en talente.  Die kinders is ook kans gegee om tydens klastyd te vertel waarhoor HULLE alles dankbaar is.  En dan verbaas die amper 9-jariges, die graad 3 klas waar ek gister waargeneem het, met die wonderlikste, in-diepte antwoorde.  Een dogtertjie het gesê sy is dankbaar dat sy vir Jesus het.  Ek wonder of ek ooit genoeg daaroor dink dat dit die grootste grootste geskenk is.  Om vir Jesus te hê!  As enigiets anders misluk, dit is wel met my siel!

 

Sommer ‘n tong-in-die-kies brokkie :  Ek het die boodskap met ‘n rolspel vertel waar ekself, as Maria, my storie kom vertel het.  Die enigste lang hare wat ek in die hande kon kry – my stokkies sou nie deug nie – was Frozen se SPIERWIT vlegsel. Ek het eintlik nog ‘n pruik met lang wilde swart hare, maar het dit al baie gedra, onder andere toe ek Simson was.  In elk geval, met die laaaang SPIERWIT hare, tesame met my Bybel-klere, het al die kinders (graad 1 tot 6) tjoepstil gesit, en mooi gekonsentreer.  Ek moet bysê, ek het byna vergaan van die hitte binne in die gewaad, so die boodskap was kort en kragtig.  Maar die boodskap het ge”stick”.  En dis al wat belangrik is.

 

NS  Ek moet darem spog met ons kinders, en uit die aard van die saak hul ouers.  Ons bywoningsyfer gister was 73% (52 van ons 71 kinders was teenwoordig).  En dit ten spyte daarvan dat ons ‘n paar kranige atlete in ons midde het, wat Vrydag en Saterdag in die hitte hulle ALLES gegee het by die kleuresport byeenkomste.  So, baie kinders was lekker moeg, maar hulle was DAAR!

 

En nou, ietsie oor ons projek:

Soos almal weet, werk ons Kinderkerk kinders elke jaar aan ‘n projek.  Dit is ‘n gebruik wat al die jare van die Kinderkrans (deesdae KIX) af kom, en volg ons mos op ‘n Sondag die KIX- model.

 

Ons woeker nou reeds vir die 3de jaar vir die VGK Koelenhof.  Vir twee jaar het ons die laerskool kinders gehelp met benodigdhede, onder andere tafeltjies en stoeltjies vir die kleintjies, en skryfbehoeftes vir die res.  Hierdie jaar  werk ons vir die ouer kinders, vanaf 13 jaar.  Ons het reeds Spar geskenk bewyse vir hulle gegee om hul afsluiting te hou in Desember.  Foto’s sal by die Jeugdiens vertoon word. Ons sal spoedig die res van ons geld, wat teen end Februarie onttrek moet word, in die vorm van nog Spar geskenkbewyse oorhandig.  Daarmee gaan hulle nog self fondsinsamelings hou deur hamburgers te maak en verkoop, en nog vele meer.  Hulle doelwit is om binnekort al die kinders op ‘n kamp te neem op ‘n naburige plaas.

 

Die VGK Koelenhof het ‘n baie aktiewe jeuggroep wat, behalwe Sondae, ook Vrydagaande bymekaarkom, onder leiding van jong volwassenes.  Hierdie byeenkomste is nie net ‘n geestelike byeenkoms nie, maar ook ‘n ware oase vir die kinders op ‘n Vrydagaand wanneer omstandighede nie altyd so wonderlik is by almal se huise nie. Van ons fondse sal ook deur hulle aangewend word om Vrydagaande iets te ete te hê, sowel as koffie, tee ensovoorts, en warm sjokolade in die Winter.

 

Ek heg foto’s aan van ons plakkaat van 2023, asook ons nuwe plakkaat wat gister in gebruik geneem is.  Dankie aan Natasha Albertyn, wat elke jaar vir ons die plakkate ontwerp.

Vir elke R5 wat die kinders bring, plak hulle ‘n ster of ‘n hartjie.  Hierdie plakkate word ywerig toegeplak!

 

Seëngroete

Riëtta Odendal