23 Mei 2019

Hemelvaart voel so half soos die afskeep-kindjie van die kerklike jaar. Dis dan die enigste groot Christelike feesdag wat toe nie as vakansiedag die kalender gehaal het nie. Beteken dit dat dit vir ons onbelangrik is, en eintlik maar geïgnoreer kan word?

Natuurlik is Hemelvaart uniek. Enigeen wat al ‘n knop in sy keel probeer afsluk het op Cape Town International lughawe as hy iemand daar moet afsien (iets waarvan ek die laaste tyd hopeloos te veel ervaring het!) sal weet dat dit nooit lekker is om afskeid te neem nie. En dis presies wat die dissipels daardie dag op die berg ervaar het. Hulle sou nooit weer bevoorreg wees om aan Jesus te kon vat nie. Dit was die einde van ‘n era vir hulle almal, en maklik was dit vir seker nie!

Tog was die laaste woorde van Jesus wat in hulle ore weerklink het, sy belofte dat Hy altyd daar sou wees vir hulle. Jesus het dit nogal begin deur vir hulle te sê: “Onthou…” (Matteus 28:20). Jesus se fisiese vertrek het juis die direkte implikasie dat Hy in die Gees by ons almal alomteenwoordig kan wees tot die einde toe. Dis dus waar wat Hy gesê het: dis eintlik vir ons voordelig dat Hy weggaan (Johannes 16:7). Want nou is God deur sy Gees die hele tyd in ons almal!

Maar daar is natuurlik nog ‘n ander element aan Hemevaart wat dit vir ons baie besonders maak: Hemelaart is al tereg Jesus se troonbestyging genoem. Ons bely dit mos elke Sondag, dat Hy aan die regterhand van die Vader gaan sit het – dis die posisie van mag oor die heelal. Sy bediening as Lydende Kneg van die Here is verby: Alle mag is aan Hom opgedra. Gaan lees maar self in Openbaring watter luisterryke posisie Hy nou beklee.

Daarby kom natuurlik die feit dat Hy daagliks vir ons intree by die Vader, asook dat Hy gegaan het om vir ons plek reg te maak vir dag wat ons daar by Hom gaan aansluit. En skielik besef jy dat Hemelvaart nie ‘n hartseerdag kan wees nie. Dis ‘n wonderlike feesdag! Jy kan op Hemelvaartdag maar saam met Händel die woorde van Openbaring  11:15 sing: “And He wil reign for ever and evermore. Halleluja!”